Update

Opvolg: Twee grafte op Brandwag

Op die plaas Brandwag is daar net een graf, dié van Siska Lubbe, wat vyf jaar gelede kort na die geboorte van haar kind oorlede is. Volgende Sondag sal daar ’n tweede graf wees...dié van Christelle Lubbe.

Me. Lubbe het Dinsdagaand, twee dae ná ’n ongeluk op die N4, gesterf. Sy het ernstige kopbeserings opgedoen en nooit haar bewussyn herwin nie.

Haar man, Jaco, wat self ook beseer is in die ongeluk, se bed is tydens besoektye langs haar ingestoot en hy kon haar hand vashou. Hy was ook daar toe sy gesterf het.

Mnr. Lubbe gaan vir die tweede keer in vyf jaar langs die graf van sy vrou staan.

Mnr. Jaco en me. Christelle Lubbe
Mnr. Jaco en me. Christelle Lubbe

Sy eerste vrou, Siska, het in Januarie 2010, sowat drie weke na die geboorte van hul seuntjie, Dian, gesterf. Siska was die dogter van dr. en me. Leon (bekende veearts) en Riëtte Connoway.

Na Siska se afsterwe het mnr. Lubbe ’n kerkhof op die plaas gevestig, Siska was die eerste wat daar begrawe is.

Op 22 Maart sal hy sy tweede vrou in dieselfde kerkhof ter ruste lê.

Mnr. Lubbe se broer, Japie, het emosioneel vertel dat Christelle “baie lief was vir die Here. Sy het ’n sagte gees gehad.”

Klein Jano Lubbe (16 maande) is ook uit die voertuig geslinger, maar hy het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
Klein Jano Lubbe (16 maande) is ook uit die voertuig geslinger, maar hy het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

Hy het gemeld dat die diens gehou sal word by Sabie Valley Coffee’s, wat reg oorkant die plaas geleë is. “Siska se diens was ook daar gehou.”

Teen druktyd was daar nog nie ’n spesifieke tyd vir die begrafnis bevestig nie.

Familie en vriende van regoor die land en selfs uit Italië het hierdie week boodskappe van vertroosting op mnr. Lubbe se Facebookblad geplaas.

Baie mense het hierdie week hul simpatie uitgespreek omdat mnr. Lubbe vir die tweede keer ’n jong baba, Jano (16 maande), asook sy twee ouer seuntjies Luan (8) en Dian (5), alleen sal moet grootmaak.

• Die ongeluk het Sondag omstreeks 15:00, presies 29km buite Middelburg op die N4 plaasgevind. Mnr. Lubbe het uitgeswaai vir ’n voertuig wat in die aankomende verkeer voor hom beland het.

Sy voertuig het die pad verlaat en verskeie kere gerol. Me. Lubbe en klein Jano is albei uit die voertuig geslinger. Jano het ligte beserings opgedoen, maar me. Lubbe het erge kopbeserings opgedoen en het twee dae later gesterf. Die twee ouer Lubbe-seuns was nie in die voertuig nie. Hulle het vir die naweek by hul ander grootouers, Japie en Ina Lubbe, gekuier.

• ’n Ooggetuie wat die ongeluk sien gebeur het, se verhaal verskyn elders.

’n Foto van mnr. Jaco Lubbe en sy eerste vrou, Siska. Op haar skoot is hul oudste seuntjie, Luan (nou agt). Sy is drie weke na die geboorte van hul tweede seuntjie, Dian (nou vyf) oorlede. Siska is die dogter van die geliefde veearts, dr Leon Connoway.
’n Foto van mnr. Jaco Lubbe en sy eerste vrou, Siska. Op haar skoot is hul oudste seuntjie, Luan (nou agt). Sy is drie weke na die geboorte van hul tweede seuntjie, Dian (nou vyf) oorlede. Siska is die dogter van die geliefde veearts, dr Leon Connoway.

• Mnr. Lubbe is saam met sy broers, Japie en Jurgens, die mede-eienaars van Induna Adventures in die Hazyview omgewing, waar die plaas Brandwag, ook geleë is.

• Mnr. Jurgens Lubbe is getroud met Edly, dogter van die welbekende pediater, dr. Derek Bissett.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button