(Grafiese foto’s) Opvolg: Baba X al ses maande oud!
Middelburg se heldinnetjie, Baba X, is al ses maande oud en babbel nes enige ander gelukkige baba, hoewel sy na geboorte weggegooi is soos die poplap op die ashoop.

Hoewel Baba X wel deur die Umephi kinderhuis versorg word, is sy nié in die Middelburg babahuis nie, maar elders uitgeplaas vir haar veiligheid.
Die stap moes geneem word na ‘n ongekende reaksie op die baba meisie se lot nadat sy gevind is agter die treinspoor tussen bourommel, toegedraai in ou koerant pamflette, agtergelaat vir die dood.
‘n Tiener op pad na iewers, het piepgeluidjies gehoor en dadelik alarm gemaak.
Na twee weke in die hospitaal is sy uitgeplaas Umephi toe.
Die klein vegtertjie is nou ses maande oud en het reeds talle mediese toetse ondergaan, wat vereis word voordat sy reg is vir aanneming.
“Daar is nog ‘n paar uitstaande toetsuitslae, maar dinge val goed in plek vir haar om binnekort reg te wees om ‘n ouerhuis te kry,” sê Umephi se maatskaplikewerker, me. Sumari Rootman.
Me. Rootman sê dat Baba X nou baie minder genebuliseer moet word, omdat haar longetjies goed ontwikkel het na haar beproewing agter die treinspoor.
Sy sê dat daar ‘n lang aannemings waglys is vir die Umephi huise, wie se uitplasings deur die Abba aanneemdiens behartig word.
Plaaslike ouerpare sowel as internasionale aanneemouers wat reeds deur die streng keuringsproses gegaan het, sal sodra Baba X die mediese groenlig kry, ook op hul fisiese eienskappe oorweeg word, wat belangrik is omdat uiterlike ooreenkomste tussen die aanneem gesin en die aanneembaba krities is.
“Ons is positief dat sodra die proses afgehandel is, daar geen rede sal wees hoekom Baba X nié ‘n liefdevolle ouerhuis sal kry nie,” sê Sumari.
Hoewel Baba X ‘n naam gegee is, moet dié ook beskerm word, vir die meisietjie se veiligheid.
“Sodra sy aangeneem word, gee die ouers die babatjies in elk geval ‘n nuwe naam,” sê me. Rootman.