Opvolg: Interdik teen dr. Kok

'n Interdik is teen die bekende pediater, dr. Alan Kok, verkry.

Dr. Kok het verlede Vrydag in ‘n omvattende onderhoud met die Observer gesê dat hy op 2 Maart in die hof moes wees, omdat mnr. Liam Niemandt ‘n interdik teen hom gekry het en hy dit teenstaan.

Mnr. Niemandt het dr. Kok op 23 Januarie vanjaar met ‘n mes gesteek nadat ‘n bakleiery by mnr. Niemandt se huis uitgebreek het. Daar was toe reeds krapperigheid tussen die mans, aangesien mnr. Niemandt dr. Kok beskuldig het dat hy ‘n verhouding het met sy vrou.

Dr. Kok het by sy huis opgedaag, aan die hekke geruk en later ingekom. Kort hierna het die geveg uitgebreek.

Mnr. Niemandt het intussen ‘n interdik teen die dokter gekry.

Die interdik behels dat dr. Kok nie naby mnr. Niemandt of sy kinders mag kom of kontak met hulle mag hê nie.

In dr. Kok se opponerende verklaring het hy ontken dat hy ‘n verhouding met me. Niemandt gehad het en “dat hy nog altyd ‘n goeie pediater was”.

Mnr. Derick van Wyk, mnr. Niemandt se regsverteenwoordiger, het dié week gemeld “dat ons nooit gesê het dat hy ‘n slegte pediater was nie.”

Dr. Kok het oor die interdik net gesê: “Liam is bang vir my. Sedert die voorval het ek nog nooit weer kontak met hulle gehad nie.”

Volgens dr. Kok het hy die betrokke dag net na die huis gegaan om hulp te gaan verleen aan me. Niemandt “omdat ek besorg was oor haar veiligheid. Die feit dat hy my met ‘n mes gesteek het, is die aksie van ‘n desperate man. Hy het geweet sy huwelik is verby. As ek nie soontoe gegaan het nie, sou hy waarskynlik iets aan hulle gedoen het en sou ons in die koerant gelees het van ‘n gesinstragedie.”

Dr. Kok het weke gelede al ontken dat daar ‘n verhouding tussen hom en me. Niemandt was. Me. Niemandt het egter op haar beurt erken dat daar ‘n verhouding tussen haar en die dokter was, “maar dat dit verby is”.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button