Ambulanskrisis: Groep van Durban genader
Die ambulanskrisis het die naweek weer nuwe afmetings bereik met die ernstige ongeluk waarin me. Christelle Lubbe, Sondag breinbeserings naby die Arnot-afrit op die N4 opgedoen het, en daar wéér vir ambulanse gewag moes word.
Volgens ‘n eMalahleni tandarts, dr. Juan Steyn, wat op die toneel hulp verleen het, was daar na bykans ‘n halfuur nog geen ambulanse nie.
Hy moes die toneel verlaat en dr. Steyn sê toe hy by Middelburg kom, het die eerste brandweerwa, ongeveer 40-minute na die botsing, verby hom gery.
Een van die ambulansmanne wat op die noodroep reageer het, sê dat hulle op die toneel meegedeel is dat hulle ‘n uur laat is.
Die ambulansman het gerugte dat daar nie suurstof beskikbaar was nie, ontken, en gesê hoewel hulle nie klein, draagbare suurstofbottels het nie, het ‘n lid van die publiek, die groot suurstofbottel in die ambulans uitgedra na waar me. Lubbe gelê het.
“Met ons aankoms op die toneel is suurstof dadelik toegedien,” sê die paramedikus.
Met hul aankoms is hulle egter reeds meegedeel deur ‘n Swazilandse dokter en militêre paramedikus op die toneel, dat me. Lubbe moontlik reeds breindood was.
Die plaaslike pediater, dr. Bisset en sy dogter, wat met een van die Lubbe boeties, Jurgens, getroud is, het hulleself ook na die toneel gehaas.
Dr. Bisset wou hom egter nie uitspreek oor die juistheid van die gerugte dat die ambulans eers twee ure na die botsing opgedaag het nie.
Dr. Steyn het aan die Observer gesê dat hy dadelik Langamed van eMalahleni gebel het, maar meegedeel is dat hulle nie Middelburg noodroepe hanteer nie, en ER24 sal uitroep.
Die staatsdiens het egter beheer op die toneel geneem.
Die twee privaatdienste, ER24 en Langamed, het beide intussen reageer op verlede week se Observer berig oor die ambulanskrisis wat tans ondervind word.
Volgens ER24 se segsman, mnr. Werner Vermaak, is die huidige aantal noodroepe wat die diens ontvang, gemeet aan hoeveel van dié oproepe aan ander diensverskaffers soos Langamend oorgegee moet word, nie genoeg om meer ambulanse op die pad te sit nie.
“Indien ons net besluit om meer voertuie na die area te bring, en daar nie oproepe is nie, is daar ‘n risiko dat mense hulle werk kan verloor as ons voertuie weer later moet rondskuif,” verduidelik mnr. Vermaak.
ER24 het tans net een ambulans, met ‘n tweede wat staan, en eers uitgestuur word indien die noodsituasie dit regverdig.
“Naas botsings, kry ons daagliks ander mediese noodgevalle asook hospitaal oorplasings in die dorp, en op die oomblik is daar nie genoeg noodgevalle of oorplasings om meer voertuie in die area te regverdig nie,” hou mnr. Vermaak vol.
Hy basseer sy gevolgtrekking op statistieke wat “elke paar maande nagegaan word”.
Langamed, wat in eMalahleni gestasioneer is, sê hulle stuur gereeld ambulanse na Middelburg, wanneer ER24 vasbrand met tonele of oorplasings van pasiënte.
Die diens se operasionele bestuurder, mnr. Gene Jacobs, het die week heftig reageer op verlede week se berig waar die diens deur ‘n beheerkamer operateur van Mid-Alarms, me. Marisca Hirchorn, beskuldig is van onetiese gedrag.
“Dis nie waar dat ons beheerkamer vir haar gesê het om van die lyn af te klim omdat sy die lyn ophou nie,” sê mnr. Jacobs oor die voorval waar ‘n man verlede Sondag by Rex kafee inmekaar gesak het.
“Daar is mooi aan haar verduidelik dat die operateur die lyn moet sny sodat sy kon uitvind wat die toedrag van sake met die beskikbare ambulanse is, en die operateur sou haar dan terugskakel,” sê mnr. Jacobs.
Nietemin het hy toegegee dat daar wel ‘n probleem in Middelburg is met min ambulanse en dat Langamed altyd bereid is om te help.
Die slegte publisisteit vir Langamed en ER24, is volgens beide onregverdig, omdat hulle geen beheer het oor die staatsambulansdienste, wat as reël eerste na tonele uitgeroep word nie.
Weens die voortslepende krisis, het die plaaslike Guardian Protection groep, naas Midmed, in onderhandeling getree met drie afsonderlike diensverskaffers waarvan een reeds volgende week op die pad sal wees.
Mnr. Lourens du Plessis, eienaar van Guardian, sê dat die Rescue Care groep van Durban reeds bevestig het dat ‘n ambulans volgende week in Middelburg op die pad sal wees.
Onderhandelinge met die diens is deur Middelburg 911, waarvan mnr. Du Plessis ‘n besturende lid is, aan die gang gesit.
Oproepe sal deur die Guardian groep se beheerkamer hanteer word en die ambulans sal ook daar gestasioneer wees, en 24 uur, sewe dae ‘n week beskikbaar wees.
Die ambulans sal beman word deur plaaslike paramedici, en aanstellings is reeds gemaak, en verdere onderhoude sal volg.
Die groep het nog vier ambulanse wat hulle aan Middelburg beskikbaar sal stel, sou die krisis toeneem.
Die direkte lyn na die ambulans van volgende week af is 013 590 0289 en die Guardian beheerkamer se nommers is 013 590 0287 of 8.
Midmed se bestuurder, mnr. Hennie Viljoen wat verlede week gesê het dat die hospitaal met twee groepe, Life24 en LifeMed, onderhandel vir meer ambulanse, sê dat daar intussen besluit is om ER24 ook te nader.
“Teen volgende week behoort daar besliste uitsluitsel te wees oor die aanstelling,” sê mnr. Viljoen.
