Reën, modder = N4 botsings
'n Gladde, nat N4 het Donderdag vir die hoeveelste botsing digby die Alzu petroport gesorg, en die insittendes van twee luukse Mercedes Benz motors, was gelukkig om met hul lewens uit die wrakke te klim.
Volgens die polisie het die twee voertuie eers teen mekaar gebots, voordat beide motors ook met twee trokke in botsings betrokke was.
Die polisie sê dat die wit Mercedes die silwer Mercedes getref het, waarna die wit Mercedes weer ‘n Toyota afleweringstrok getref het.
‘n Reuse Reef Tankers trok wat brandstof vervoer het, het daarna teen altwee Benz motors gebots, waar dit langs die pad op die modderige reserwe tot stilstand gekom het.
Die botsing het plaasgevind op ‘n deel van die pad waar Trac reeds begin het om grondverskuiwings te doen.
Die trok, wat glad nie beskadig is nie, het met sy neus in die lande van ‘n boer tot stilstand gekom.
Die polisie sê niemand is in die botsing beseer nie.
Trac het aan die begin van Maart begin met die opgradering van fase twee van die hoofweg, wat ersntige gevare op dié drukbesige deurgang na Maputo gaan veroorsaak weens padsluitings en spoedverminderingsones.

Die konsessiehouer sal op groot gedeeltes van die hoofweg tot by Wonderfontein, spoedverminderings van 80km/ph instel tot afhandeling van konstruksiewerk wat eers in Oktober 2016 afgehandel sal wees.
Opgraderings aan Seksie 4C van km 20.86 to km 38.0, is reeds van verlede jaar af in volle swang en konstruksie aan Seksie 4D van Woestalleen en Wonderfontein, het nou in alle erns afgeskop.
Die hoofweg is uiters berug vir sterftes in nat weer op ‘n groot gedeelte van die pad vanaf Middelburgdam tot Wonderfontein.
Daar was ook ‘n beduidende toename in dodelike botsings by Alzu waar opeenhopings en spoed hoofsaaklik ‘n rol speel weens die verkeersvloei na die russtop.
Met die konstruksiewerk gaan die westelike bane van die N4 ‘n derde baan bykry, twerwyl twee oostelike bane gebou gaan word.
Daar sal ook ‘n grasmiddelman soos dié tussen Middelburg en Middelburg tolplaza, aangebring word om kop-aan-kop of T-been botsings uit te skakel.
Trac sê konstruksie aan die oostelike bane wat van meet af gebou sal word, baie werk op die bestaande loopvlak sal vereis, asook intensiewe konstruksiewerk aan bestaande duikerdreine en groot brûe.
• Sondag is vier mense lig beseer op die N4 Bethal afrit.
Volgens ER24 is hulle die aand na die afrit ontbied waar ‘n motor gerol het.
Al vier die insittendes is gevind waar hulle regop sit langs die pad waar die kar gerol het.
Een van die slagoffers het sy arm gebreek en die ander drie is saam met hom Middelburg Hospitaal toe vervoer vir waarneming.
