Video: Boer in bene geskiet
'n Boer, een van twee op Lakenvlei se Three Oaks sindikaatplaas, is Woensdag in beide sy bene deur drie aanvallers geskiet, nadat hulle hom en 'n huismaat op die plaas aangeval het.
Mnr. Peter Gunston is na die Middelburg Hospitaal gehaas na die aanval op hom en mnr. Wilson Tait (73).
Mnr. Gunston het Donderdag uit sy hospitaalbed vertel dat hulle op die plaas ingewag is deur die mans.
Beide hy en mnr. Tait was in die dorp en met sy terugkoms het hy gemerk die plaashek en huishek staan wawyd oop.
Mnr. Gunston was reeds op die erf en kon nie gou genoeg omdraai om te vlug nie.
Hy is stormgeloop deur twee van die aanvallers en by sy Nissan Almera uitgedwing.
‘n Jong man, wat hy tussen 16 en 18-jaar skat, het ‘n .99 pistool op hom gerig en dadelik gevra “waar’s die geld”.
Toe hy sê hy het niks, het die man hom op die plek in die linkerbeen geskiet.
Die koeël is deur sy linker en regterbeen, waarna hy op die grond neergeval en die tweede aanvaller hom by die huis probeer insleep het.
Op dié stadium het sy Blackberry in sy sak gelui en die skieter het hom uitgehaal en die foon met een skoot flenters geskiet.
‘n Derde aanvaller het toe uit die huis gestap gekom met ‘n sak vol buit wat mnr. Gunston se Tablet, skootrekenaar en verskeie kameras ingesluit het.
Mnr. Tait, wat net voor mnr. Gunston by die huis aangekom het, was vasgebind in sy deel van die huis.
“Ek het om hulp geroep maar mnr. Tait kon nie beweeg nie, derhalwe moes ek opstaan en bloeiend in geweldige pyn by die huis inkom,” sê mnr. Gunston.
Hy sê hy het ‘n erg aangerande mnr. Tait in die huis aangetref en hom losgemaak.
Gelukkig het die aanvallers nie mnr. Tait se selfoon gebuit nie en mnr. Gunston is terug na buite waar hy sy Blackberry SIM-kaart gevind, in die foon gesit en ‘n buurman gebel het.
Die polisie en ambulansdienste was kort daarna op die toneel.
“Ek kon nie glo hoeveel wapens die jongman aan hom gehad het nie, in sy gordel het ek vier getel, plus die een in sy hand,” sê mnr. Gunston.
Hy skat die ander twee aanvallers in die 20’s en 40’s was en sê al drie was baie donker van gelaat, maar het met hom in geskoolde Engels gehoor praat.
Sy Almera is kort na die aanval verlate op die Spitskoppad gevind.
Die Belfast polisie sê dat daar die afgelope ruk ‘n vlaag aanvalle in Belfast en omliggende dele was waar drie gewapende mans die misdade gepleeg het.
‘n Reuse soektog na die mans is nou van stapel gestuur om die voortslepende aanvalle hok te slaan.
Mnr. Gunston sê dat die nuus van die aanval so vinnig versprei het, dat talle boere hom ingewag het voor sy aankoms by die Belfast Hospitaal, wat hom Middelburg toe oorgeplaas het.
Die plaas is gesog onder vlieghengelaars en mnr. Gunston sê dat hy honderde duisende rande in die besigheid geploeg het, en nou wik en weeg om die Lakenvlei vleiland vaarwel te roep.
Die polisie sê dat die mans met vyf vuurwapens, R800 kontant wat in mnr. Gunston se beursie was, en waardevolle huisware gevlug het.
‘n Sak met twee haelgewere is egter later agter op mnr. Tait se bakkie gevind, waar dit deur die aanvallers daar gegooi is.
Mnr. Gunston vermoed dat die inkomende oproep die mans die skrik op die lyf gejaag het.
•Hy bedank beide Belfast en Middelburg Hospitaal vir hul professionele diens.
•Die polisie vra dat mense met inligting oor die aanvallers kaptein Dibakwane by 082 318 9536 of 013 253 1214 moet bel.
•’n Boervrou is ook Woensdagaand in die Marble Hall omgewing aangeval en aangerand. Haar man het tot haar redding gekom.
