Oordbestuurder skotvry uit hof
Te danke aan 'n kommunikasiegaping en polisie laksheid, het Cobus Marais (51), bestuurder by Forever Resorts Loskopdam, skotvry uit die hof gestap.
Marais het in die hof verskyn op aanklag van aanranding en dierewreedheid. Die saak spruit uit ‘n voorval wat in Maart 2014 plaasgevind het, waarin Marais na bewering vir Johannes Lodewikus Ceronie aangerand het deur hom op die been te skop.
Die wreedheid teenoor diere klag is teen hom geopen omdat hy glo op dieselfde dag ‘n hond geskop het.
Landdros JP de Klerk het die saak verlede Vrydag van die rol geskrap toe die dossier nie in die hof was nie.
Toe daar navraag gedoen is by die Middelburg polisie oor die dossier, is ‘n skokontdekking gemaak.
Volgens kapt. Khanyisile Zwane, polisiewoordvoerder, is die saak op die polisie sisteem steeds aktief en is daar ‘n lasbrief uitgereik vir Marais se inhegtenisneming nadat hy versuim het om in Februarie in die hof te verskyn.
“Hy is ‘n gesoekte man en hy word aangeraai om hom by die polisiestasie te kom oorhandig.”
Beheeraanklaer San Barto het by navraag gesê dat daar wel ‘n lasbrief vir versuiming om in die hof te verskyn vir mnr. Marais uitgereik is op 11 Februarie, maar dat dit later gekanselleer is.
Mnr. Marais sê dat hy dringend Kaap toe moes gaan vir werk. Sy prokureur, Ismael Essa, het iemand gestuur om vir hom verskoning te gaan maak by die hof. Maar dit blyk dat daar by die verkeerde hof verskoning gemaak is. Mnr. Marais het agter gekom iets skort toe die polisie hom bel terwyl hy in die Kaap is en vra dat hy homself by die polisiestasie oorhandig.
Die saak is uitgestel na 13 Maart, sodat die dossier terug hof toe kon kom. Daar is nooit deur die polisie opgevolg wat in die hof gebeur het nie en dit verduidelik hoekom die lasbrief steeds aktief is volgens die polisie.
Toe die saak op 13 Maart voorkom en die dossier is nie in die hof nie, het die hof geweier dat dit weer uitgestel word, en is dit van die rol geskrap. As ‘n saak van die rol geskrap word, beteken dit dat die hele proses van voor af ondersoek moet word en dat die beskuldigde nie net weer gedagvaar kan word soos wanneer dit teruggetrek word nie.
•Mnr. Marais ry tans met ‘n brief van die hof in sy voertuig rond wat hom van die lasbrief kwytskeld.
