EntertainmentLifestyle

Skou gaan Kanonkop dogter help

Die Suid-Afrikaanse Pit bulterriër Organisasie gaan 'n reuse skou en kompetisie aanbied om 'n leerling van Hoërskool Kanonkop te help.

Mnr. Yusuf Tarmohammed (voorsitter van die SA Pit bulterriër Organisasie en stigterslid van die ‘Zeea’s Dream Foundation’) het dié week vertel dat hulle op 25 en 26 April die skou hou in Ajmer Singel (Eastdene) om Clarissa Bosman (‘n graad 10 leerling van Hoërskool Kanonkop) te help.

Clarissa moet dringend draadjies kry en ‘n skuifoperasie aan haar tande ondergaan, maar hul mediese fonds dek nie die sowat R50 000 wat dit sal beloop nie.

Buiten die skuifoperasie in teater, moet sy nou ook draadjies kry. Later moet haar verstandtande verwyder word en dan sal ‘n kaakoperasie volg om haar kakebeen korter te maak.

Mnr. Tarmohammed het van die gesin se dilemma gehoor en besluit om hulle by te staan deur dié skou ten bate van Clarissa te hou.

Op 25 April in die voormiddag is die pit bulterriëskou waar pit bulterriërs van regoor die land sal deelneem. Later die middag begin die “Pull Fest”, wat sal deurloop tot op 26 April.

Mnr. Tarmohammed verduidelik dat met die “Pull Fest” daar sekere dissiplines is wat die diere moet doen, wat onder andere insluit: muurklim, longhang (waar die hond letterlik met sy bek aan iets vasbyt en hang), gewigtrek (vandaar die naam “Pull Fest”), verspring en hoogspring. Daar is ook ‘n konformasie-afdeling waar die honde geklassifiseer word.

Deelnemers sien altyd verskriklik uit na die gewigtrek-afdeling waar honde tussen vyf en nege ton (laasgenoemde is ‘n wêreldrekord wat in Suid-Afrika opgestel is) sal trek!

Mnr. Tarmohammed sal self ook deelneem met sy twee honde, Skyler en Rocky.

Daar sal gedurende die fees kampplekke beskikbaar wees op die terrein om by te dra tot die feesatmosfeer.

Vir enige navrae rakende die fees, bel mnr. Tarmohammed by 082 410 2145.

• Die Zeea’s Dream Foundation is ‘n nie-winsgewende organisasie wat vroeg hierdie jaar begin is in herinnering aan mnr. Tarmohammed se tienjarige dogtertjie, Nazeera, wat op 21 November 2014 oorlede is nadat sy deur ‘n kar raakgery is. “Dit was altyd Zeea se droom om ander te help en daarom het ons dit gestig.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button