Aanval met pepersproei

Die vrou wat haar buurvrou op 20 November 2014 so erg met pepersproei bygedam het, dat sy hospitaal toe gejaag moes word, het Dinsdag en Woensdag weer vlugtig in die beskuldigdebank gestaan op aanklag van aanranding.

Me. Suzette Dibden kon sedert die aanval nie haar voete in haar eie huis sit nie, na borg van R500 aan haar toegestaan is die Woensdag na haar borgvrylating op 26 November 2014.

Sy het die week ‘n aansoek gebring om die verligting van borgvoorwaardes, onder meer dat sy kan huistoe gaan.

Me. Dibden, het self die koerant met talle verklarings van “moddergooiers” voorsien en sê daar word ‘n smeerveldtog teen haar gevoer en dat haar foon deur die polisie en intelligensiemagte afgeluister word.

Johanné Spies en haar ma, Louise, het intussen ‘n beskermingsbevel teen me. Dibden verkry, na die pepersproei aanval oor ‘n A op die adresbord van die huis wat Johanné en haar kêrel deel. Die eenheid is geleë op ‘n onderverdeelde erf wat hulle met me. Dibden deel.

Die bevel maak dit duidelik dat me. Dibden nie kontak mag maak deur enige sosiale mediaplatform of per foon nie, en sy moet dadelik staak om mev. Spies in die openbaar te beledig, en rond te vertel dat Johanné op dwelms is en met ‘n pentagram op haar nek rondloop.

Me. Dibden sê dat die adres ‘n A moet hê, nadat sy haar erf onderverdeel het jare terug, en twee eenhede op die reserwe gebou is.

Sy sê sy het die betrokke dag die hoeveelste maal ‘n A met Tipex op die adresbord gaan aanbring, en beweer dat sy later by die Mall gebel en gedreig is deur Johanné.

Daar is na bewering onder meer vir haar gesê dat haar “hande afgesny gaan word”.

Met haar aankoms by die adres, het Johanné op die sypaadjie gestaan, besig om die A vir die hoeveelste maal met ‘n mes af te krap.

“Ek het bedreig gevoel, toe spuit ek,” het me. Dibden erken.

Sy het self polisiestasie toe gery en die saak onder hulle aandag gebring, maar is die daaropvolgende Maandag gearresteer en vir twee aande toegesluit.

Me. Dibden beweer dat sy tydens haar aanhouding gehoor het hoe ‘n man in ‘n sel verkrag word.

Sedert haar vrylating het sy haar tot sosiale mediaplatforms gewend en talle onskuldiges by die saak ingesleep.

Verskeie bekendes in Middelburg se ore tuit nou oor die lasterlike aantuigings wat me. Dibden teen hulle maak.

Me. Dibden het ook die koerant voorsien van ‘n aanlyn gesprek tussen mev. Spies en haar eksman, Raymond Dibden, waarin mnr. Dibden reguit sê hul huwelik het verbrokkel weens haar “erge emosionele en sielkundige probleme,” en dat dit dalk “tyd geraak het dat iemand die hof nader om haar te stuur vir sielkundige waarneming”.

Onder diegene wat verklarings teen me. Dibden ingedien het tel haar suster, Leatittia McCarthy, Manequins Salon se eienaar me. Jana Coetzee, me. Tracey Ann Barnes en me. Ruby de Witt.

Volgens me. Coetzee se verklaring, moes sy al die polisie en die Mall se sekuriteit ontbied om me. Dibden uit die salon te verwyder, nadat sy aggressief geraak het met haar, haar personeel en selfs ‘n kliënt.

Volgens me. Coetzee, is een kliënt, wat bloot nie met me. Dibden ‘n geselsie wou aanknoop nie, “gewurg, beskuldig dat sy ‘n hoer is, betrokke is by die seksmafia en dwelms gebruik”.

Haar borgvoorwaardes is Woensdag effens verslap, en hoewel sy nog steeds haar huis belet word, kan sy nou tuisgaan waar sy wil en nie uitsluitlik by haar broer, ‘n polisieman van Secunda, nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button