Cefas – Christusfees op Stoffberg
Waar die hoëveld , bosveld en laeveld mekaar ontmoet, in 'n plato met asemrowende natuurskoon van Stoffberg, word die jaarlikse CEFAS Christelike Kunstefees oor die paasnaweek aangebied.
Vir drie dae lank kom meer as 100 kunstenaars op sewe verhoë bymekaar om saam met besoekers intiem in die teenwoordigheid van Jesus Christus te verkeer.
CEFAS is nou amptelik die grootste Christelike Kunstefees in Suid Afrika.
Sprekers soos Ina Bonnette, wie se eksman as die Modimole Monster bekend staan, Dawie Spies, rugbyspeler Pierre Spies se oom, Vleis Visagie, wat sy eie kind geskiet het toe hy haar vir ‘n inbreker misgis het en bekende kunstenaars soos Danie Botha, Duislig en One Crown sal tydens die fees optree.
By die 200 sitplek fliekteater sal die nuwe fliek Forsaken asook Jacques Gombault se Khumbula en Frans Cronje se Born to Win gewys word. Van die akteurs en vervaardigers sal die geleenthede bywoon en getuig oor die impak van die flieks.
Die kinders gaan vermaak en bedien word met Ronnie die Renoster, Willie en die Wenspan, Rudi Rooibaard, Driekie Olwage en oom Piet Uys.
Die idee vir die fees is in 2008 as mosterdsaadjie by Willem Enslin geplant. Dit het die eerste keer in 2013 plaasgevind. Na die groei in 2014 kan organiseerders en besoekers nie wag vir die 2015 fees om te begin nie.
Die program is vol, kompak, intiem en energiek. Sorg dat jy nie van 3 tot 5 April verby Stoffberg ry nie. Daar is ook kampeerplek beskikbaar.
Vir meer inligting gaan na www.cefas.tv of skakel Lindi de Jager by 071 400 8213
