Bankkaarte vlieg by venster uit

Daar was 'n hoë spoed jaagtog op die N4 Saterdagoggend toe vermeende kaartdiewe probeer het om 'n sekuriteitsmaatskappy te ontglip.

Louwrens du Plessis van Guardian sê dat een van sy wagte hom gebel het, nadat hy ‘n bekende kaartbedrieër by ‘n vulstasie herken het.

Hy en sy seun, Gerdus, het na die toneel gery en die verdagte voertuig, met drie insittendes, gekonfronteer.

Die mans het na bewering kort voordat Guardian op die toneel aangekom het, ‘n kaart gesteel en het dadelik probeer vlug toe hulle gekonfronteer word.

Pa en seun het die verdagtes agterna gesit in die rigting van eMalahleni. By die Middelburg Toll Plaza het hulle die hulp van ‘n verkeersman ingeroep.

Mnr. Du Plessis (junior) het gesien hoe daar bankkaarte teen sy motor se venster vas waai wat deur die verdagtes by hul voertuig uitgegooi is.

Beeldmateriaal wys hoe een van die verdagtes, in 'n wit hemp, sy slagoffer bedrieg.
Beeldmateriaal wys hoe een van die verdagtes, in ‘n wit hemp, sy slagoffer bedrieg.

Die voertuig waarin die verdagtes gery het, ‘n Volkswagen Polo, het hulle verskeie kere teen ‘n hoë spoed van die pad af probeer druk. Net voor die vurk waar die hoofweg in die N4 en N12 verdeel, het die verkeersman daarin geslaag om die Polo van die pad af te druk.

Die bestuurder van die voertuig het uitgeklim met sy hande in die lug, maar oor die hoofweg gehardloop, voordat hy geboei kon word. Nog een van die verdagtes se deur is toegedruk, sodat hy nie kan vlug nie. Hy het egter deur die motor by ‘n ander deur uit gevlug.

Mnr. Du Plessis het op sy Facebookblad gesê dat hulle een van die verdagtes erken het as Freddie Segeel. Segeel het tans twee hangende sake in die hof teen hom, een van bedrog in die streekhof en ‘n aanrandingklag in die distrikshof.

Volgens mnr. Du Plessis is die bestuurder van die motor herken as Temba Magagula, oud Mhluzi speuder.

Die polisie het op die toneel opgedaag en die kar deursoek. eMalahleni SAP het daarna gesê die voertuig moet na die Middelburg polisie gesleep word.

Themba Magagula is deur mense op die toneel as die bestuurder van die verdagte motor geïdentifiseer.
Themba Magagula is deur mense op die toneel as die bestuurder van die verdagte motor geïdentifiseer.

Maar Middelburg polisie kon nie die voertuig in besit neem nie, omdat daar geen saak oopgemaak is nie en omdat die beplande klagte van roekelose en nalatige bestuur in die eMalahleni area plaasgevind het.

eMalahleni polisie het geweier om die voertuig in te sleep en dit is net daar langs die pad gelos.

Die manne van Guardian kon daarin slaag om die kaarte wat uit die motor gegooi is, in die donker op te spoor. Hulle sê dat hulle nou self gaan probeer om die slagoffer aan wie die kaarte behoort, op te spoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button