Honde met Temik vergiftig

Een hond het gevrek en een is deurgehaal nadat booswigte die gevreesde Temik-gif oor 'n muur in Pongolastraat (Aerorand) gegooi het.

Mnr. Eddie Jacobs het Dinsdag omstreeks 02:00 hul honde hoor blaf en buite gaan kyk of hy iets sien. Alles was egter doodstil en hy het weer gaan slaap.

Toe hy om 05:00 opstaan en die honde, wat aan die voorkant van die huis bly, roep, het net Mieke (‘n Jack Russell-kruising) gekom. Hy het aangeneem die ander hondjie, Max (‘n Jack Russell), slaap nog, en is weer die huis in.

‘n Uur later het hulle die hondjie buite gekry waar hy gevrek het. Mieke het geweldig gebraak en hulle is met beide die honde na die veearts. Mieke is deurgehaal, aangesien sy net ‘n klein bietjie van die gif ingekry het.

Volgens me. Margaret Jacobs was Mieke in die herstelstadium van bosluiskoors en het gelukkig baie min van die gif ingekry. Max was egter ‘n gulsige hondjie en het bykans alles wat vir hulle oor die muur gegooi is, gevreet. Hulle vermoed die gif is in ‘n stukkie vleis of wors gegooi.

Hulle het gevra dat die veearts ‘n lykskouing doen, waarop hulle meegedeel is dat die hondjie Temik, die bekende “Two Step”-gif, ingekry het.

Me. Jacobs het gemeld dat die boosdoeners gelukkig nie agter by hul groot honde kon kom nie. “Ons honde is maar almal in die omgewing se waghonde, want as hulle blaf, dan weet die mense iets gaan aan.” Hulle maak nou egter in die aande die groot honde ook toe, omdat hulle bang is hulle kry ook gif in.

Hulle het hul hele erf skoongemaak en met water gespuit, aangesien hulle jong kinders het en bang is hulle kry van die gif in.

• Me. Jacobs sê hulle het by al die bure navraag gedoen, maar daar is gelukkig nie by iemand ingebreek of iets gesteel nie.

• Die Observer het verlede jaar berig van ‘n dodelike gif, ‘n “Aldicarb’-formulasie, wat presies soos Temik (net so dodelik) lyk.

‘n Joernalis het in Junie 2014 binne minute twee klein sakkies (sowat twee teelepels vol) by ‘n man in ‘n leerbaadjie gekoop vir R20 toe daar aan hom genoem is, dat daar gif gesoek word vir muise (Gundwane). Hy het die gif “Aliphirimi” genoem en gesê dat die persoon haar hande dadelik moet was, nadat sy daarmee gewerk het, aangesien dit baie giftig is.

• Bekende veearts, dr. Leon Connoway, het tydens ‘n vorige onderhoud gesê dat dié gif die dier se senuweestelsel aantas en dat hulle spiere begin ruk as hulle dit ingekry het.

Waar die hond deurgehaal word, kan die nagevolge van die gif vir etlike dae aanhou en hy verlamming toon.

• Dr. Marle Jacobs (veearts) het verlede jaar ook gesê dat vergiftiging met Temik al vir jare ‘n probleem is. Haar raad was dat wanneer daar vergiftiging op ‘n erf was, die hele erf, veral waar die dier gebraak of ontlas het, goed met water bespuit moet word om hervergiftiging van ander diere te voorkom. Diere wat aan die braaksel lek, kan ook vergiftig word.

Back to top button