Ses jaar na moord kry vrou die oproep
Ses jaar na die moord op haar man, het die polisie 'n vrou laat weet dat een van die moordenaars positief deur DNA verbind is.

‘n Opgewonde me. Debbie Verster het vir die Observer vertel dat haar man, Ferdie, se moordenaar uiteindelik aan die pen kan ry, want die polisie het laat weet dat een van die aanvallers positief deur middel van DNA geïdentifiseer is.
Haar opwinding was van korte duur, toe sy verneem dat hy vroeg in 2014 deur die polisie, ná ‘n moord in die Laeveld, doodgeskiet is. “En waar is die ander drie dan? Loop hulle nog vry rond of sit hulle in die tronk vir ander misdade en gaan nie aan die pen ry vir Ferdie se moord nie?”
Mnr. Verster is op 6 April 2009 op ‘n kort afstand by sy voordeur in Aerorand in die kop geskiet. Hy het ure later in die hospitaal aan sy beserings beswyk.
Me. Verster het nadat sy die skoot gehoor het, agter die vier aanvallers aangehardloop en met haar wapen op hulle losgebrand. Een is gewond en sy bloed (DNA) is later deur die polisie op die palissade heining gekry.
Daar is aan die Observer vertel dat ‘n buurman kort voor die moord vier verdagtes met oranje oorpakke oor die Versters se muur sien spring het. Hy het die polisie gebel, maar met hul aankoms was mnr. Verster reeds geskiet.
Sedert haar man se dood bel me. Verster elke maand die speurders om te verneem hoe ver die ondersoek gevorder het en sy was oorstelp van blydskap toe sy verneem dat ‘n persoon positief verbind is met die DNA (bloed) wat op die heining gekry is.
Daar is hierdie week verneem dat die DNA positief verbind is met ‘n gesoekte misdadiger in die Laeveld, Ernesto Silawule (‘n Mosambiekse burger), wat deur die polisie doodgeskiet is, na ‘n aanval en moord in Februarie 2014.
Tydens die gebeure het Silawule en sy makkers toegesak op die Clur-gesin in hul lapa op Hectorspruit en mnr. Leon Clur is in die kop geskiet. Hy het ure later aan die kopwond beswyk.
Boere en polisiemanne het na die verdagtes gesoek, waarop hulle ses ure later vir Silawule en een van sy makkers onder die brug, naby die treinspoor by Marloth Park gekry het. Die twee verdagtes is gevra om te stop, maar hulle het omgedraai en Silawule het mnr. Clur se haelgeweer op die polisie gerig, waarop hy doodgeskiet is.
• Adj. Lize de Witt (Middelburg polisiewoordvoerder) het dié week bevestig dat Silawule se DNA positief verbind is met die moord op mnr. Verster.
Dit kom as ‘n groot verrassing vir vele ondersoekbeamptes, nadat algemeen aanvaar is dat die bekende misdadigers (beide ook Mosambiekers), Paulo (ook Pailito of Paulus genoem) Chivambo en Bennett Sithole deel was van die moorde op mnre. Verster en Peter Saffy (hy is ‘n week ná mnr. Verster in sy huis doodgeskiet).
Chivambo en Sithole is twee maande na die moord tydens ‘n oor en weer skietery tussen rowers, boere en die polisie op Cullinan aangekeer.
Daar is algemeen aanvaar dat een van hulle se DNA positief sou terugkom, aangesien ballistiese toetse gewys het dat die projektiel wat uit mnr. Verster verwyder is, positief verbind word met ‘n wapen wat die twee gebruik het tydens nog ‘n roof- en ontvoeringsaak op Thabazimbi.
Die twee is vir 17 jaar tronk toe gestuur nadat bevind is dat hulle mnr. en me. Deon en Elsabé van der Merwe van hul voertuie beroof en ontvoer het op Thabazimbi.
• Adj. Manie Botha (destydse ondersoekbeampte) het destyds al gevra dat daar DNA van die twee geneem moes word, aangesien hy ook die ondersoekbeampte was van ‘n ander saak in Middelburg waar Chivambo deur middel van vingerafdrukke positief verbind was met ‘n aanval en roof. Tydens hierdie aanval is mnr. Dirk Coetzee en sy vyftienjarige dogter deur rowers oorval wat gewapen was met ‘n 9mm pistool en ‘n mes.
Pa en dogter is vasgemaak en die rowers het gedreig dat hulle die twee sal doodskiet as hulle die voertuig se opsporingstelsel aktiveer.
• Adj. De Witt het gemeld dat, alhoewel die wapen wat Chivambo en Sithole gebruik het in die ander rooftogte, wel positief verbind word met die projektiel wat uit mnr. Verster gehaal is, hulle nie nou aangekla gaan word nie. Daar is klaarblyklik nie klinkklare bewyse dat hulle op die toneel was tydens die moord nie.
• Adj. Botha het intussen ontslag uit die polisie gekoop en is nou ‘n privaatspeurder by Mid-Pro Forensiese Dienste. Hy het hierdie week gesê dat hy steeds oortuig is daarvan dat Chivambo en Sithole deel was van die groep van vier wat op mnr. Verster toegesak en hom geskiet het.
Hy het gemeld dat die Coetzee-saak destyds tydelik teruggetrek is, sodat die sake in Thabazimbi kon aangaan. Daarna sou hulle teruggebring word na Middelburg om op die Coetzee-roof verhoor te word. Dan sou die kwessie ook ondersoek word of hulle positief met die Verster of Saffy moorde verbind kon word.
Kort daarna het hy egter ontslag uit die polisie gekoop en weet nie of die twee nou al weer aangekla is op die roof op die Coetzee’s nie.
“Hulle wás by Verster se moord betrokke! Ek is doodseker daarvan. Dit is dan die wapen wat Chivambo gebruik het op ander tonele ook!”
• Op die Saffy saak is daar ook nog nie verdagtes gearresteer nie. ‘n Bloedspoor is in die huis gekry, maar dit was nie dié van mnr. Saffy nie, aangesien hy in sy kamer gesterf het. Dit was dus sy moordenaar se bloed.