Update

Opvolg: Vier maande na selaanranding

Vier maande nadat 'n man in die polisieselle kaal uitgetrek en erg deur aangehoudendes aangerand is, het hy nog niks van die polisie gehoor nie en kry hy berading omdat hy die voorval steeds nie kan verwerk nie.

“Ek ry nie by die polisiestasie verby nie en as ek ‘n polisievoertuig sien, slaan die sweet op my uit. Ek weet nie hoe veilig is ek of my familie nie,” het mnr. Carel van der Schyff hierdie week emosioneel gesê.

Hy werk nie tans nie en sê dat die gebeure in November 2014 “beslis deel daarvan uitmaak dat ek nie werk nie.” Hy kry ook twee keer per week berading, “want ek leef in vrees.”

Mnr. Van der Schyff is op 19 November 2014 aangekla vir opsetlike saakbeskadiging na ‘n voorval waar hy deur sy werkgewer gevra is om drade te knip op ‘n perseel om ‘n onwettige plakker te probeer kry om te trek.

In die daaropvolgende gebeure is mnr. Van der Schyff gearresteer en na die polisiestasie geneem. Selfs nadat sy borggeld betaal is, is hy steeds in die polisieselle gegooi. Sy regsverteenwoordiger, me. Johan-Lee Benadie, is toegang tot haar kliënt geweier en terwyl hulle besig was met onderhandelings, is mnr. Van der Schyff selle toe geneem.

‘n Polisielid, wat mnr. Van der Schyff en sy werkgewers later geïdenitifiseer het as kapt. Timothy Dladla, het mnr. Van der Schyff afgeneem na die selle en hom tussen verhoorafwagtendes laat ingaan.

Mnr. Van der Schyff het gesê dat die kaptein vir die mense in die selle iets gesê het. Pas nadat die seldeure toegegaan het, het die ander verhoorafwagtendes op hom toegesak.

Hulle het vir hom geskree: “wat het jy aan die kaptein gedoen?” Net daarna het hulle sy klere uitgepluk en hom aangerand. In die proses is sy staalarmband ook van sy arm afgesteel.

Hy is onder andere teen sy kop en op sy lyf aangerand en het tydens die gebeure ook op ‘n stadium sy bewussyn verloor.

Sedert die gebeure sukkel mnr. Van der Schyff om te slaap. “As die polisieman so ‘n opdrag kon gee terwyl ek in ‘n sel was, wat kan gebeur as daardie mense losgelaat word. Die polisieman wéét waar ek bly! Ek kan nie meer nie. Dit is asof die polisie alles net onder die mat invee en hoop dit gaan verby. Hulle gaan aan soos gewoonlik!”

• Klagtes van onder meer aanranding is destyds teen die verhoorafwagtendes aanhangig gemaak.

• Me. Benadie het ook aan die koerant na die gebeure gesê dat ‘n siviele aksie kan volg.

• Daar is gevra dat ‘n ondersoek teen die lid ook moet volg, maar hulle het nog niks van die polisie gehoor nie.

• Luit-kol. Leonard Hlati (provinsiale woordvoerder) het gesê dat hy nie kan kommentaar lewer oor die interne ondersoek self nie, maar net kan uitvind hoe ver die saak al ondersoek is. Teen druktyd het hy nog nie kommentaar gelewer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button