Pofadder se dodelike byt

'n Jack Russell het lank in 'n graf afgekyk, terwyl hulle sy hondemaatjie begrawe.

Sparky, een van drie Jack Russelltjies op die Krugers se plaas, Elandspruit (ou eMalahlenipad) was net so hartseer soos die gesin, nadat ‘n pofadder vir Frankie gepik en hy ure later gevrek het.

Mnr. Zane Kruger vertel dat een van sy plaaswerkers hulle Maandagoggend gebel het met die nuus “dat die slang weer in die pad pla”. Mnr. Kruger sê die slang is gereeld gesien.

Hy en sy seun, Bowen (15), het hul gewere in die voertuig gelaai en gery na die plek waar die werker beduie het. Hul Jack Russell hondjies het agter die voertuig aangehardloop.

Met hul aankoms by die plek, het hulle aanvanklik niks gesien nie. Frankie het egter skielik die gras ingehardloop.

Bowen het gekyk waarheen die hond hardloop en iets in die gras sien lê. Hy het gedink dit is ‘n likkewaan, maar hulle het dadelik besef dit is ‘n slang toe Frankie die pofadder aan die stert gryp.

Die slang het soos blits oorgebuig en terwyl die hond hom aan die stert beet het, hom op die rug gebyt. Mnr. Kruger het die ander hondjies gekeer en Bowen het die pofadder geskiet.

Mnr. Kruger het dadelik met Frankie na die veearts gejaag, waar hulle meegedeel is dat die pofadder die hondjie ook in die nek gebyt het. “Ek was binne 15 minute by die veearts, maar teen daardie tyd was Frankie al lam. Ons was omstreeks 13:00 by die veearts en kort voor 17:00 het hulle vir my laat weet dat Frankie dit nie gemaak het nie.”

Hulle het die dooie hondjie gaan haal en op die plaas begrawe.

Terwyl hulle besig was om Frankie te begrawe, het Sparky by die kant van die gat gaan staan en lank binnetoe gekyk.

• Mnr. Kruger sê dat hy nie ‘n voorstander is om slange dood te maak op die plaas nie. Die slang was egter ‘n gevaar vir hom en sy seun, asook hul honde en plaaswerkers..

• Dit was ‘n geweldige groot pofadder (langer as ‘n meter) en die slang was vol eiers.

• Bowen was baie hartseer oor sy hond se dood. Hy het juis vir Frankie vernoem na sy held, Rich ‘Ace’ Franklin, ‘n bekende hokvegter. Bowen self is ook ‘n kranige hokvegter.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button