Familie aangeval op strand

'n Bekende pastoor het wag gehou op 'n strand, sodat vriende en familie kon swem, na 'n vroeëre aanval, waartydens een van die vakansiegangers met 'n mes in die gesig gesteek is.

“Ek moes soos ‘n brandwag sit en hulle met my wapen verder oppas. Die rowers het ‘n mens se vrede kom wegvat,” het past. Jan van Deventer (aflospastoor van die PPK Lofdalgemeente) Maandag gesê.

Past. en me. Riana van Deventer en hul vriende, Johan en Marlene Schoeman, asook die Schoemans se drie kinders, was gedurende die vakansie vir ‘n paar dae saam weg na Pumula (naby Hibberdene).

Hul luilekker vakansie het Donderdag in ‘n nagmerrie ontaard toe mnr. Schoeman en sy vrou met ‘n mes aangeval is.

Past. Van Deventer vertel dat hulle baie naby aan die strand gebly het, maar dat hulle met die voertuig afgery het strand toe, omdat hulle so baie goed gehad het om te dra.

Mnr. Schoeman het begin braai en past. Van Deventer het gou opgestap na hul blyplek om nog iets te gaan haal. Hy was nog nie eers by die huis nie, toe hy me. Schoeman se gille hoor.

Me. Schoeman vertel dat sy, me. Van Deventer en mnr. Schoeman rustig gesit het, toe sy besef dat sy nog ‘n braaipakkie wil hê. Die kinders (Henry, Bianke en Chantelle) het ‘n ent gaan stap om vis te vang. Sy het vir past. Van Deventer gebel en gesê dat hy ‘n braaipakkie moet saambring.

Toe sy omdraai om weer te gaan sit, het sy twee mans by hul voertuig, sowat tien treë vanwaar hulle besig was om te braai, opmerk.

“Die volgende oomblik was hulle op Johan. Een het hom met die visstok geslaan en die ander een het hom met die mes begin steek!”

Sy het begin gil en haar selfoon gegryp om past. Van Deventer te bel. Die een rower het haar egter gesien en op haar toegesak.

“Ek weet nie of ek gestruikel het en of die Here my uit die pad uit geruk het nie, maar die mes het my hart rakelings gemis en hy het die selfoon uit my hand uit geruk.”

Past. Van Deventer het reageer op die gille, omgespring om terug te hardloop en vir ‘n persoon geskree dat hulle die Buurtwag en polisie moet laat weet dat mense aangeval word.

Volgens me. Schoeman het haar man later vir haar vertel dat toe hy omkyk, het hy in die aanvaller se oë gekyk. “Hy het gesê daardie man het gekom om hom dood te maak. Daar was nie tyd om iets te doen nie! Hulle het hom verskriklik aangerand en aanmekaar met die mes gesteek.”

Mnr. Schoeman se ken is oopgekloof en hy moes later 10 steke kry. Op die plekke waar die rower egter na sy hart en maag gesteek het, het die mes net krapwonde gemaak. “Ons weet nie hoekom die mes nie sy bors binnegedring het nie. Ons glo dit is net die Here wat dit gekeer het.”

Die rowers het die sakke (waarin selfone, kameras en ander persoonlike artikels soos die karsleutels was) gegryp en laat spaander.

Buurtwaglede en polisiemanne, asook die ambulans was binne minute op die toneel. “Ons het nog nie sulke puik polisiewerk op enige plek beleef nie! En die buurtwaglede was net so goed. Dit was net amazing!”

Past. Van Deventer en die Schoeman’s se seun, Henry (15), het sowat drie ure later nog die area gefynkam. Henry het op ‘n stadium iemand tussen die bosse sien lê en gedink dat dit ‘n lyk is.

Toe past. Van Deventer naderstap, het die persoon opgespring en weggehardloop. Hy het egter van die artikels laat val, waarop hulle die voertuigsleutels teruggekry het. Die kameras en selfone is egter steeds weg.

Na die aanval was almal vreesbevange en het die mans (tot met hul vertrek Sondag) beurte gemaak om met ‘n wapen wag te hou op die strand as die ander gaan swem. “Soos ek nou voel, wil ek nooit weer Suidkus toe gaan nie,” was me. Schoeman se kommentaar.

“Dit is net genade dat ons almal bly leef het. Ek het net vandag besef dat ‘n mens mekaar nie genoeg waardeer nie.”

• Een van die rowers het sy selfoon laat val toe hy weghardloop. Die polisie het later die gesinne laat weet dat een van die persone wat ‘n kontak is van die rower op die selfoon, ‘n moordverdagte is in ‘n ander saak.

“Dit was dus ‘n moordbende wat ons aangeval het. Hulle het kom om dood te maak!” het me. Schoeman ontsteld gesê.

• Beide past. Van Deventer en mnr. Schoeman is bekende sakemanne op eMalahleni.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button