Gewurg by verkeerslig
'n Vrou is in haar voertuig gewurg en beroof van haar selfone en kontant by die verkeerslig naby Nando's.
Dit was die eerste van drie voorvalle waar daar aan vroue se deure gepluk is by verkeersligte.
• Me. Vida Labuschagné kan sedert die voorval nie slaap nie en herleef oor en oor die gebeure waar sy verlede Dinsdag omstreeks 13:10 by die verkeerslig op die hoeke van Cowen Ntuli- en Lilian Ngoyistraat in haar voertuig aangeval is.
Sy was derde van voor af in die ry om links te draai in Lilian Ngoyistraat. Haar venster was ‘n klein entjie oop en sy het haar boeglam geskrik toe iemand skielik by die venster skreeu: “Give me your money your white bitch or I will kill you!” Hy het ook aan haar deur begin ruk.
Me. Labuschagné was byna doodseker haar deure was gesluit, maar terwyl al haar aandag by die venster was, het die agterste deur skielik oopgevlieg en twee booswigte het by haar in die voertuig gespring. Die een het haar van agter gewurg, terwyl sy makker oor haar geleun en haar beursie en selfoon tussen die twee sitplekke gegryp het. Een het van agter af die bestuurderskant se deur oopgesluit.
Op hierdie selfde oomblik het die een by haar venster haar deur oopgeruk en met haar begin stoei. Me. Labuschagné het met al haar krag teen hom baklei en aanmekaar die deur probeer toeruk.
Terwyl die een haar wurg en sy gestoei het met die ander een by haar deur, het sy geweldig geskree, maar nie een van die mense wat voor haar gestop het, het iets agtergekom nie. Sy kon egter in haar truspieëltjie sien dat daar ‘n man in ‘n wit bakkie sit, maar hy het gemaak asof hy niks sien nie. Me. Labuschagné het ook opgemerk dat daar ‘n polisievoertuig met polsiemanne agter die wit bakkie staan, maar niemand het haar te hulp gesnel nie.
Net so skielik as wat die groep gekom het, het hulle net so vinnig weer verdwyn. Sy het rukkend van skok gery tot by die Sasol Motorhawe (hoek van Beyers Naude- en Lilian Ngoyistraat) waar ‘n persoon haar te hulp gesnel en sy ‘n selfoon geleen het om haar man, Adriaan, te bel.
Me. Labuschagné het erge pyn oor haar ribbes, nek en lyf gehad weens die geveg. Sy sê sy is te bang om te bestuur. Sy kan ook nie in die nag slaap nie. “As ek verby die plek ry, begin my binnegoed te ruk. Dit bly in my kop dat hy gedreig het om my dood te maak.”
Die egpaar het tot op hede nie die voorval by die polisie aangemeld nie. “Wat help dit tog? As die polisie, wat alles sien gebeur het, niks gedoen het nie, sal hulle in elk geval niks doen as ons dit aanmeld nie.”
• Donderdagmiddag was twee vroue, me. Janine Paterson, asook me. Esmerelda Brits binne ‘n kort rukkie die slagoffers van booswigte wat motoriste teiken by die verkeersligte op die hoeke van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat.
Me. Paterson vertel dat sy vanaf John Magagulastraat af regs wou draai in Cowen Ntulistraat, maar moes stop by die rooi verkeerslig.
Die volgende oomblik het die passasiersdeur van haar Mercedes Vito Paneelwa oopgevlieg. “Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, want my deure is altyd gesluit!”
Sy het oorgeleun en die deur toegeruk. “Ek was nog besig om te baklei teen die een wat die deur aan daardie kant oopruk, toe my deur oopgaan.”
Weens skok het haar voertuig gestol, maar sy het bly stoei teen die twee rowers wat haar deure oopruk. Sy het geweldig geskree, maar niemand het tot haar redding gekom nie en die persoon agter haar het selfs sy toeter gedruk dat sy moet ry!
Me. Paterson het aanmekaar vir hulle geskree: “uit my bussie uit!” en vir lewe en dood aan die deure geklou. Hulle het later doodluiters weggestap.
Volgens me. Paterson het die verkeerslig sowat twee keer oorgeslaan tydens die aanval, maar almal in die ander voertuie het net bly kyk. “Daar was ‘n voertuig lángs my, maar hy het anderpad gekyk!”
Toe sy later geskok by ‘n besigheid stop en vertel wat aangaan, het die mense gevind dat daar stukkende plekke op haar arms was soos sy teen die booswigte baklei het. “Die mooiste gebaar was van die karwag wat vir my ‘n pleister gegee het vir die stukkende plek op my elmboog.”
Sy is van mening dat dit dieselfde groep rowers is wat tussen die verkeersligte rondbeweeg en op slagoffers toesak.
Me. Paterson is al moedeloos, aangesien sy en haar familie die afgelope drie jaar al verskeie kere die slagoffers was van misdaad.
Sowat twee jaar gelede moes sy anti-retrovirale middels gebruik nadat sy ‘n rower, wat haar wou kaap, aan die hand gebyt het toe hy haar sleutels wou vat. Sy makkers was ook reeds in die voertuig en het sy ook teen hulle gestoei.
Haar man, Terrence, is drie jaar gelede beroof by sy werksplek toe hulle in Rustenburg gebly het. “Die een rower het hom op die grond laat lê en die pistool teen sy kop gehou. Toe hy die sneller trek, het dit egter gestoor. Later het die wapen gewerk toe ander werkers hulle met klippe bestook en daar op hulle losgebrand is!”
‘n Jaar gelede is daar ook by die gesin se huis ingebreek terwyl hulle gelê en slaap het. Verskeie wapens van die boosdoeners, waaronder ‘n mes, skroewedraaier en moersleutel, is later in en om die huis opgetel.
“Ek is gatvol vir misdaad. Ons het nou genoeg gehad!”
• Me. Brits sê daar is ook aan haar deure geruk by dieselfde verkeerslig. Haar deure was egter gesluit en sy het weens skok oor die rooi verkeerslig gejaag.


