Update

Opvolg: Dr. Kok uit kamers geskop

Dr. Alan Kok is uit sy spreekkamer geskop. 'n Omgekrapte dr. Kok het Vrydagoggend gesê dat hy met sy terugkeer vanaf 'n vakansie in Nieu Seeland, 'n brief van die hospitaalbestuurder, mnr. Hennie Viljoen, ontvang het, waarin hy aangesê word om aan die einde van Meimaand uit sy spreekkamer te wees.

Dr. Kok sê sy kontrak is elk vyf jaar hernieu en dat dit wel Desember 2014 die einde van die kontrak was. Hy het egter vir hom die verhoogde tarief begin vra, van vroeg hierdie jaar af en hy het aangeneem dat dit dan beteken dat die kontrak hernieu is.

Die brief wat hy ontvang het, spel dit uit dat hy einde Meimaand uit die perseel moet wees, aangesien hulle die perseel vir iets anders gaan gebruik.

“Dit is geniepsig en kleinlik wat mnr. Viljoen doen. As hulle nie die kontrak wou hernieu nie, moes hulle my tog al Desembermaand gesê het.”

Dr. Kok se opnameregte is opgeskort by al die Life hospitale by die Life Healthcare groep.

“Dit is ‘n onding wat hulle doen. Hulle weerhou my om ‘n diens te lewer. Ek moet tog ‘n plek hê waar ek ernstig siek pasiënte kan opneem.”

Dr. Kok sê die inkorting van sy opnameregte is gedeeltelik te wyte aan slegte publisiteit vroeër vanjaar, maar ook omdat hy ‘n ander dokter se werkswyse gekritiseer het, “omdat hy nie medies eties opgetree het nie. Ek het ‘n vraag gevra en die dokter het my gevloek. Daar is getuies wat dit kan staaf!”

Opvolg: Interdik teen dr. Kok

Dr. Kok het gesê dat hy nie Life Midmed se optrede aanvaar nie, en hom tot die hof gaan wend.

“Hulle keer dat ek my beroep beoefen en dit is konstitusioneel nie reg nie. Nou vat hulle my werksplek ook weg.”

• Dr. Kok het gesê dat hy nié die dorp gaan verlaat nie. “Dit gaan oor my pasiënte en dit is hoekom ek bly. Selfs toe ek oorsee was, het ek raad vir my pasiëntjies se ouers oor die foon gegee.”

•Ander dokters op die dorp het reeds vir hom kamers aangebied.

Back to top button