Video: Olifants River Lodge vier 30ste
Barrie Viviers wou in 1985 'n yskas koop op 'n insolvente veiling by Olifants Hotel. Aan die einde van die dag het hy weggestap met die kaart en transport van die hotel in sy sak!
Nou, na 30 jaar, kyk hy nie één oomblik terug nie!
Mnr. Viviers het nooit gedink dat hy destyds die hotel aan die rand van die Olifantsrivier sou koop nie.
“Ek het na ‘n yskas gesoek vir Hotel Christo op Bethal. Die oomblik toe ek oor die randjie kom en die potensiaal van die plek raaksien, het ek daar en dan besluit om die hotel te koop en te verbeter!”

In die 30 jaar wat verby is, het Olifants River Lodge gegroei tot een van die bekendste toeriste-aantreklikhede en konferensiesentrums in hierdie gedeelte van die land.
Mnr. Viviers het in 1959 in Johannesburg gematrikuleer. Hy is na die myne, waar hy hom gekwalifiseer het as ‘n mynventilasie offisier in die goudmyne. Met ‘n diploma agter sy naam, het hy by die Rand Mines Navorsingslaboratorium gaan werk, waar hy onder andere navorsing kom doen het by die destydse RMB (nou Columbus Stainless).
Besigheid met net R300
In 1969 breek hy weg om sy besigheid te begin met slegs R300 in sy sak. Sy besigheid het hy bedryf onder Barviv (afgelei van sy naam). In dieselfde jaar is hy getroud met Thea.
Met hierdie besigheid het hy die dekor van hotelle gedoen, met die kennis wat hy van sy ma en pa opgedoen het. Sy pa was ‘n skrynwerker en sy ma ‘n naaldwerkster wat haar toegespits het op die maak van trourokke.
Later het hy ‘n Duitse houtwerkfabriek gekoop om meer professionele mense wat oor goeie vakkennis beskik, te betrek by sy onderneming.
Vroeg in 1985 het hy Hotel Christo in Bethal gekoop en Desember van daardie jaar het hy sy yskas én hotel by Olifants gaan koop.
Die omgewing het hom egter welgeval en hy het stadig maar seker sy belange in Johannesburg verminder. Hotel Christo is ook later verkoop.
Mnr. en me. Viviers het deur die jare ook die moedermaatskappy, Barthea (na aanleiding van hul name) begin. ‘n Kort berig verskyn elders wat verduidelik watter besighede onder dié maatskappy val.
• Hul seun, Pierre, is nou ook een van die direkteure by Olifants River Lodge.
Lees meer hier:
