Update

Opvolg: ‘Angels’ steun Aiden

“Sit ’n net op jou swembad. Nee, nie ’n net nie, ’n seil, want ’n net het nog gate. Maak seker jou swembad is toe, al moet jy drie hekke opsit. Dit is die aakligste gevoel as jy jou kind in die swembad sien dryf, ek wens dit vir niemand toe nie.”

Dit was Clarise Roberts se advies aan ander ouers vanoggend op Radio Jacaranda. Die radiostasie se Good Morning Angels het kennis geneem van klein Aiden nadat hulle oorval is met versoeke van luisteraars.

Aiden Roberts het verlede Dinsdagaand in ’n swembad geval. Hy was vyf tot sewe minute onder die water voordat sy ouma, Ina Marais, hom uit die water gepluk het.

Die gemeenskap het soos een man saamgestaan en die skynbaar onmoontlike moontlik gemaak, deur binne ure derduisende rande te skenk sodat Aiden die beste moontlike mediese hulp kon ontvang.

Hy word tans in die Garden City hospitaal behandel.

Sy oupa, Thys Marais, wat dadelik begin het met noodhulp toe Aiden uit die water gehaal is, het Woensdag gesê dat dit baie goed gaan met Aiden. Sy bloeddruk is vir die afgelope twee dae stabiel en hy reageer as sy geliefdes aan hom vat.

Hul dokter het ook aan die familie gesê dat Aiden sekere stemme herken as die van sy ma of oupa.

“Hy weet wie praat. As sy ma praat dan gaan daai masjiene mal. Partymaal vra hulle ons om net bietjie terug te staan sodat hy kan kalmeer. Die dokter sê dit is ’n goeie teken omdat hy spesifieke mense herken.”

Die Good Morning Angels het R50 000 geskenk en die Aiden Roberts Medical Trust op hul webblad bekend gemaak.

“Jacaranda het vir ons nog ’n paar dae gegee,” sê mnr. Marais. Hy meen dat dit onmoontlik is om te sê hoe lank Aiden nog in die hospitaal gaan wees.

“Hy is sterk, maar hy is nogsteeds kritiek siek. Al haal hy self asem, neem sy longe nie genoeg suurstof in nie. Hulle gaan hom nie wakker maak voordat sy longe sterk genoeg is nie. Die masjiene wat hom nou help asemhaal werk soos fisioterapie vir sy longe.”

Lees vorige stories hier:

Opvolg: Aiden haal self asem

Opvolg: Familie hoopvol oor Aiden

Die dorp vat hande

Opvolg: Aiden steeds in hospitaal

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button