Opvolg: Vrou veg teen rower
In die soveelste geval die afgelope paar weke, het rowers by 'n verkeerslig op 'n vrou toegesak en haar handsak gegryp.
Me. Mariana van den Bergh het Maandag gesê dat sy steeds “die bewerasies kry as ek daarvan praat.”
Sy het Vrydag omstreeks 11:30 by die rooi verkeerslig op die hoeke van John Magagula- SADCstraat gestop.
Me. Van den Bergh sê sy het skielik ululasie geluide gehoor (die skril geluide wat vroue met hul tonge maak as hulle opgewonde is) in die omgewing. Sy het opgemerk dat die geluide nader aan haar voertuig beweeg.
Terwyl sy nog wonder waarom hulle die geluide maak, het iemand skielik haar bestuurderskant se deur oopgepluk en haar aan die arm beetgekry. “Ek glo hy wou my by die voertuig uitgooi om my kar te vat!”
Sy het met alle mag teen hom baklei, vasgeskop in die kar en die deur probeer toeruk. Gedurende die stoeiproses het sy skielik gehoor hoe hy fluit.
Die volgende oomblik het haar passasiersdeur oopgevlieg en ‘n tweede booswig het haar handsak, wat langs haar gelê het, gegryp.
Me. Van den Bergh het haar losgeruk vanaf die eerste aanvaller, die deur toegeslaan en weggejaag. “Ek het nie eers opgemerk of die lig rooi of groen was nie. Ek het net gery!”
Sy was teen Maandag nog lyfseer van die geveg. “Ek sluit altyd my deure en net die een keer wat dit nie gesluit is nie, het hulle hul kans gesien!”
Sy is ook oortuig daarvan dat die vroue wat so geraas het, deel is van die groep.
• In die handsak was ‘n kontantbedrag, haar identiteitsboekie, bestuurskaart, bankkaarte en kamera.
• Me. Van den Bergh sê dat ‘n vriendin vir haar vertel het dat sy in die dorp was en dat iemand teen haar kar vasgehardloop het. Toe sy vir die man vra “wat doen jy?”, het hy haar deur haar oop venster in die gesig geklap.
• Die Observer het sowat drie weke gelede berig oor verskeie vroue wat slagoffers was van deurrukkers.
Me. Vida Labuschagné was by die verkeerslig op die hoek van Cowen Ntuli- en Lilian Ngoyistraat die slagoffer van drie aanvallers.
Een het by haar venster geskreeu hy gaan haar doodmaak, waarop twee ander agter in die voertuig gespring het. Een het haar gewurg, terwyl die ander een haar selfoon en beursie gebuit het.
• Me. Janine Patterson moes net twee dae later op die hoeke van John Magagula- en Cowen Ntulistraat veg teen twee mans wat albei die voorste voertuigdeure oopgeruk het.
• Op dieselfde hoek het ‘n booswig met ‘n mes teen me. Esmerelda Brits se venster gekap, maar sy het weggejaag.
• ‘n Week later het ‘n vrou (wat anoniem wil bly) geskrik toe ‘n booswig hard teen haar venster geklop het op die hoeke van Cowen Nutli- en Lilian Ngoyi. Toe sy vir hom wys dat hy moet geepad, het hy vir haar middelvinger gewys.
• Rdl. San-Mari Wait was self al ‘n slagoffer van mans wat aan haar deure geruk en teen haar vensters geslaan het.
• ‘n Paar dae later het mense in Walter Sisulustraat gedink dit is oorlog toe skote begin klap het. ‘n Booswig het ‘n man se deur op die hoeke van Walter Sisulu- en SADCstraat probeer oopruk, maar die man het sy wapen uitgepluk en op hom losgebrand.
• Die Observer het die afgelope tyd verskeie berigte gepubliseer, waar vroue die slagoffers was van boosdoeners wat aan hul deure gepluk het. Tydens een van die voorvalle het hulle die deure oopgekry, die vrou gewurg en gedreig dat hulle haar gaan doodmaak.
• ‘n Joernalis het in die omgewing van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat vir ‘n rukkie die omgewing gaan bespied.
Daar is opgemerk dat daar by al vier hoeke groepies vir lang tye staan. Sowat 10 sekondes voordat ‘n polisievoertuig verby die kruising gedraai het, het een van hulle egter gefluit en hulle het in alle rigtings verdwyn.
• John-John (van onbekend) is op 24 April deur lede van Middelburg 911 Zello radiogroep vasgetrek, nadat een van die lede se seun ‘n slagoffer van misdaad in die middedorp was.
• Past. Renier Pelser het nadat hy die foto van John-John gesien het, op Facebook gemeld dat dit dieselfde man was wat ‘n dag voor sy arrestasie by sy voertuig probeer inbreek het.
• John-John is ook moontlik een van die verdagtes wat betrokke was by die voorval waar ‘n hoërskoolseun, Arman Terblanché, met ‘n mop geslaan is toe hy alarm gemaak het toe ‘n booswig iets uit ‘n voertuig wou steel.
Lees nog stories hier:
Opvolg: Polisie sê dit is nie nie gevaarsones



