Video: Kruis skyn vir Dean
Die kruis op die plek waar Dean Peyper ’n jaar gelede gesterf het, skyn nou helder.
Dean is op 14 Mei 2014 oorlede na ’n ongeluk by die Argent/Dwarsfontein afrit.
Sy pa, Joe, het kort daarna ’n kruis laat opsit op die plek waar die ongeluk gebeur het. Dit het hom egter gepla dat ’n mens die kruis nie baie mooi kon sien nie.
Hy is verlede week terug, waar hy die kruis hoër gemaak en ook weerkaatslint opgeplak het, dat ’n mens dit duideliker kan sien.
“Dean se naam is groot bo-aan die kruis. Ek wil hê as mense verby ry, moet hulle sy naam sien,” het mnr. Peyper gesê.
Mnr. Peyper het gewys dat iemand, nadat hy verlede jaar die kruis vir Dean opgesit het, ’n hangertjie op die kruis (wat om die foto op die kruis hang) gaan sit het. “Dit is nog steeds daar.”
• Hy wil graag van die geleentheid gebruik maak om Sterling Steel te bedank wat Dean se naam gratis uit staal gemaak het. Dit is heel bo-aan die kruis.

