Elf sterf in ongeluk
Elf mense is dood en ’n gesin van drie, waaronder ’n drie weke oue baba, is kritiek beseer in ’n ongeluk Sondagaand op die Marble Hall/Toitskraalpad.
Mnr. en me. Diaan en Janine Terblanché en hul drie weke oue baba, Dianiël, se toestand is teen druktyd deur familie as “kritiek” beskryf. Al drie word in die intensiewe eenheid van die Life Midmed Hospitaal behandel.
Mnr. Terblanche se suster, Carla, het Maandagoggend aan die Observer gesê dat die koerant hulle nie moet steur “aan die stories wat rondloop nie.”
Me. Kagiso Mootane (Limpopo Verkeersdepartement mediawoordvoerder) het Maandagoggend aan JacaNews gesê dat die ongeluk veroorsaak is deur roekeloos en nalatige bestuur. ’n Klagte van strafbare manslag word ook ondersoek.
Mootane het gesê dat die bestuurder van ’n Toyota Fortuner ’n trok verbygesteek het en trompop gebots het met ’n aankomende voertuig.
In die bakkie was plaaswerkers wat vanaf ’n sokkerwedstryd gekom het. Elf mense het op die toneel gesterf.
Daar is ook gemeld dat die bestuurder van die Fortuner van die toneel af gevlug het en dat die polisie opsoek is na hom.
Carla het aan die koerant genoem dat die bakkie sonder ligte gery het.
Volgens haar was mnr. en me. Terblanché en hul baba oppad terug vanaf die Freudenhoff familie wildsplaas op die Skerp Arabiepad. Hulle het deur Marble Hall gery, terug na hul huis op die plaas by Freudenhoff/Terblanché Boerdery (Marble Hall/Toitskraalpad) toe die ongeluk gebeur het.
Ná die ongeluk is me. Terblanché per ambulans na die Life Midmed Hospitaal afgevoer.
“My broer en klein Dianiël het baie sleg gelyk en hulle is deur ons ander broer, Janus, na dr. Dries Malan op Marble Hall gejaag.” Sy het gemeld dat die dokter gereël het dat pa en dogter ook per ambulans na die Life Midmed Hospitaal afgevoer word.
Volgens familie het mnr. Terblanché sy heup, borskas en ribbes gebreek, me. Terblanché se wangbeen is vergruis en Dianiël se bobeen en armpie is gebreek. “Al drie word tans onder sedasie gehou.”
• Teen druktyd was die oorledenes se name nog nie bekend gemaak nie.

