Sindikaat vermoedelik betrokke
Twee mans het vir die bestuurder van 'n Volkswagen voertuig van British American Tabacco geskree hy moet "voetsek!", in sy die voertuig geklim en met R80 000 se sigarette gevlug.
Volgens kapt. Khanyisile Zwane, polisiewoordvoerder, het die slagoffer sy voertuig voor die Saverite in Eastdene parkeer en twee verdagte mans met jasse en hoedens opgemerk.
Uit vrees vir sy lewe het hy die voertuig met sleutel en al in die voertuig gelos en die winkel in gehardloop. Die mans het toe ‘n vuurwapen op hom gerig, vir hom gekree hy moet “voetsek!”, in die voertuig geklim en weggejaag.
Nadat inligting ontvang is, het die polisie die voertuig op die Rondebosch plotte grondpad (oorkant Kanonkop) opgemerk en hulle op heterdaad betrap besig om sigarette wat agter op die bakkie binne die kap was, uit te laai.
Skote is op die verdagtes afgevuur terwyl hulle met pakke vol sigarette in die hand probeer het om te voet die veld in te vlug.
Van die sigarette is later in die veld opgetel.
Die polisie het teen druktyd nog na dié mans gesoek.
Dit is ook nie eerste keer wat voertuie van die British American Tabacco geteiken is nie en vermoed die polisie dat ‘n sindikaat betrokke is.
‘n Mercedes Benz voertuig wat behoort aan British American Tabacco, is Dinsdagoggend in SADCstraat gekaap.
Twee slagoffers is in die voorval betrokke.
Nadat hulle 35 bokse sigarette by ‘n winkel afgelaai het en op pad was om weg te trek, het drie kapers op hulle toegesak. Een van die booswigte het ‘n vuurwapen op hulle gerig en hulle beveel om agter in die voertuig te klim. Die verdagtes het tot by die Kees Taljaard Stadion gery, waar beide slagoffers in ‘n Volkswagen Polo forseer is.
Die slagoffers is hierna in Mhluzi afgelaai, waarna hulle die polisie van die voorval in kennis gestel het.
Beide sake word deur die polisie se Trio-taakspan ondersoek.
Sien ‘n video van hoe die polisie besig is om na die verdagtes wat Woensdag met pakke vol sigarette wou vlug, te soek by www.mobserver.co.za.
