Klere waai by Burger Hut
Die bloeddruk is behoorlik opgejaag toe die manne van Pulse in Middelburg kom dans het. Jolige vroue moes ure wag vir die mans om hul verskyning te maak.
“Dit was so kort! Hulle het skaars begin dans toe is hulle klaar en weg. Die een ou het nie eens sy bokser uitgetrek nie,” vertel iemand wat die aand daar was.
Die aand is by Burger Hut gehou en vroue wat die geleentheid wou bywoon moes R80 uithaal om te loer. Manlike besoekers is nie voor 22:00 toegelaat nie.
Die dansers het ‘n paar akrobatiese dansies gedoen en tot in deurtrekkertjies uitgetrek, dis nou behalwe vir die een pretbederwer in sy bokser. Daarna kon die vroue foto’s saam met die mans, met handdoeke om hul gespierde heupe gedraai, gaan neem.
Foto’s van die partytjie verskyn op Pulse se Facebook blad.
• Burger Hut se eienaar, Leander Marais, sê dat dit glad nie ‘n vieslike storie was nie.
“Daar was geen naaktheid betrokke nie. Dit was basies net mans wat sonder hul hemde gedans het.”
Hy sê dat die aand ‘n groot sukses was en dat daar baie vroue was wat na die tyd vir hom gevra het of hy dit meer gereëld kan aanbied omdat daar ‘n behoefte vir sulke tipe vermaak is.
