Update

Deel 2: Pepersproei-vrou nie welkom in eie huis

Pepersproei word mos gebruik om misdadigers af te skrik, nie om jou buurvrou te takel nie?

Die verhoor van me. Suzette Dibden, wat teregstaan op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer weens die pepersproei aanval op haar buurvrou in November laasjaar, het verlede Donderdag begin.

Me. Dibden, wat onskuldig gepleit het, is gedurende verrigtinge deur die landdros berispe omdat sy gereeld die getuienis van Johanne Spies, die slagoffer, onderbreek het.

Na die skrobbering, het me. Dibden die fyn Johanne stip aangestaar, terwyl sy koel en kalm vir die hof vertel het hoe sy deur ‘n woedende me. Dibden met die pepersproei getakel is, in ‘n voortslepende geskil oor die onderverdeelde erf se straatnommers.

Me. Dibden se erf is jare terug onderverdeel, en twee meenthuise is op die reserwe gebou.

Me. Spies het getuig dat hulle in 2008 reeds ‘n brief ontvang het wat me. Dibden in kennis gestel het dat haar adres van Eugene Maraisstraat 1, verander na Cowen Ntuli 13, waar die ingang na haar woning is.

Me. Dibden hou egter vol dat haar adres Eugene Marais 1 is en dat die eenhede dus 1A en 1B moet wees.

Me. Spies sê dat me. Dibden vier keer, met onder meer Tip-Ex en veselpuntpenne, die nommers 1A en 1B op die alarmmaatskappy se bord aan hul hek, gaan inteken het.

Na die eerste twee kere, is me. Dibden deur Johanne se man, Vivien, en die buurman in die ander eenheid berispe en versoek om haar optrede te staak.

Me. Spies het getuig dat me. Dibden op 19 November die bord met Tip-Ex gemerk het, wat sy self die dag met ‘n mes gaan afkrap het.

Op 20 November 2014, die dag van die aanval, het me. Spies gemerk dat die bord weer gemerk is met veselpuntpen.

Nadat sy me. Dibden twee maal gebel het, het sy begin om die merke met ‘n lap en naellakverwyderaar skoon te maak.

“Die volgende oomblik het me. Suzette daar aangekom en my tussen die hek en haar motor vasparkeer,” het die hof gehoor.

Sien video hier:

Deel 1 – Video: Peppersproei-vrou nie welkom in eie huis

Me. Spies sê me. Dibden het agter haar kardeur bly staan en haar pa beledig deur te beweer hy verkoop dwelms, waarop sy haar geantwoord het dat sy “nie lekker is nie”.

Me. Dibden het haar kort hierna die eerste maal met die pepersproei getakel.

“Ek kon nie sien of asemhaal nie, en moes aan die hekkontrole vroetel om die hek oop te kry. Terwyl ek by my erf ingevlug het, het sy my agtervolg, agter aan die nek gegryp en aanhou spuit. Me. Spies het getuig dat me. Dibden net gevlug het omdat die hek, wat outomaties toegaan, haar in die erf sou vaskeer.

Me. Spies was drie dae in die hospitaal waar sy met suurstof behandel is.

Me. Dibden beweer sy het uit selfverdediging opgetree omdat Johanne ‘n mes by haar gehad het waarmee sy glo besig was om die bord skoon te maak.

Foto’s van die bord is egter op beide geleenthede deur Johanne geneem, en ingehandig as bewys dat die mes die 19de gebruik is om die Tip-Ex af te skraap.

Me. Dibden is die Maandag na die aanval gearresteer en die Woensdag daarna op borg, met die voorwaarde dat sy nie voor afhandeling van die saak haar huis mag betree nie, vrygelaat.

Sy het Donderdag toe die saak uitgestel is, by die landdros aangedring dat sy of toegelaat word om terug te gaan huistoe, of opdrag gegee word dat die Spies familie haar reis en verblyfkostes moet betaal.

Beide versoeke is van die hand gewys.

Naas die aanrandingsklag, staar me. Dibden ook drie crimen injuria klagtes in die gesig, wat deur Johanne, haar man, en haar ma, Louise, teen me. Dibden aanhangig gemaak is.

Die klagtes spruit uit verskeie lasterlike bewerings, soos dat Johanne ‘n dwelmafhanklike satanis is, en haar vlieënier man dwelms in die lug smokkel, op Facebook gemaak is.

Beskermingsbevele, wat me. Dibden verhoed om enige verdere lasterlike bewerings via sosiale media, selfoonboodskappe of in persoon, teen die klaers te maak, is teen haar uitgereik.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button