Makietie-tyd kruip nader
Middelburg skud die vere reg vir een van die grootste feesgeleenthede wat op die dorp aangebied is.

Middelburg Erken Jesus hou op 24 September ‘n Lofprysdag in aanloop tot die kykNET Kwêla Dorp van die Jaar makietie, en beide geleenthede vind by die Kees Taljaard Stadion plaas.
Die lofprysdag begin met ‘n staptog by die Gebeds-oond, wat sal eindig by die stadion, in dank-segging vir die dorp se oorwinning in die kykNET Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie.
Die amptelike makietie program vir 25 September, is tjok en blok vol, met onder andere Bobby van Jaarsveld en Emo Adams wat gaan optree.
Die immergewilde Pieter Koen sal optree as feesgasheer.
Naas die nasionale aansien wat met die Dorp van die Jaar titel saamkom, ontvang Middelburg ook R1 miljoen se bemarkingslugtyd op kykNET.
Kameraspanne van kykNET en Kwêla sal gedurende die fees hier wees om die partytjie van die dekade te verfilm.
Deelname aan die Lofprysdag is gratis, terwyl ‘n toegangsfooi van R20 vir volwassenes tydens die makietie gehef sal word.
Toegang vir skoolkinders is gratis.
So skud daai vere reg, kanselleer jou langnaweek planne en maak seker jy’s daar!
•Lees ook die spesiale twintig bladsy bylaag in vandag se uitgawe oor die Dorp van die Jaar.
