Eerste Pinotage-en Biltongfees in Gauteng
As jy gedink het Pinotage-druiwe word slegs gebruik om ernstige rooiwyne te maak, moet dan nie die eerste Pinotage-en Biltongfees in Gauteng misloop nie.

Hierdie fees vind plaas op Pinotage-dag, Saterdag 14 Oktober, asook Sondag 15 Oktober by die Leriba Hotel in Centurion van 11:00 tot 17:00.
“Ons vier Pinotage in al sy gedaantes” sê organiseerder Cobie van Oort van CVO Marketing.
“Mense is gewoond aan die fantastiese rooi Pinotage’s wat in Suid-Afrika gemaak word, maar die ander wyne soos vonkelwyn, Rosé, versnitte, soetwyne en selfs ‘n wit Pinotage wat van hierdie druifsoort vervaardig word, is besig om sy merk te maak onder aanhangers en sal tydens die fees te proe wees.”
Met twee van Suid-Afrika se mees ikoniese produkte wat bedien word, kan besoekers hulself voorberei op ‘n fantastiese uitstappie met ongeveer 60 wonderlike wyne en ‘n reeks verskillende biltong-soorte van Billa’B & Co – Biltong Deli wat spesiaal uitgesoek is as die perfekte pasmaats.
Billa’B & Co se Biltong-produkte en al die wyn is ook tydens die fees te koop vir diegene wat die ondervinding verder by die huis wil geniet.
Deelnemende wynplase is: Altydgedacht, Beyerskloof, Delheim, Flagstone, Kaapzicht, Koelenhof, La Couronne, Lanzerac, L’Avenir, Mellasat, Overhex/Balance, Perdeberg, Rhebokskloof, Slanghoek, Simonsvlei, Van Loveren, Vriesenhof en Wellington Wyne.
Die fees is familie-vriendelik met jazz deur die Swing Cats Duo, wonderlike disse in die verskillende restaurante van Leriba Hotel asook minder formele kos by die “Rivier Lapa” kompleks. Daar sal genoegsame sitplek beskikbaar wees onder die bome langs die rivier.
Die “Pebbles Projek”, ’n geregistreerde welsynsorganisasie wat ondersteun word deur Montagu Dried Fruit and Nuts, is verantwoordelik vir die Kinder-Zone waar die kleintjies vermaak sal word terwyl ouers die fees kan geniet! ’n Donasie van R75 per kind word gevra wat aangewend sal word vir Pebbles projekte. Om meer oor Pebbles uit te vind besoek gerus www.pebblesproject.co.za. Onder 18’s kan gratis bywoon.
Kaartjies kos R220 elk op www.plankton.mobi of op www.computicket.com en sluit ’n wynglas, gratis wyn- en biltongproeë en die ervaring in. Kaartjies by die hek op die dag, kos R250 pp.
Die kleredrag vir die dag is pers en wit en pryse sal uitgedeel word vir die beste, oulikste en prettigste kleredrag! Besoek die “Selfie Pro” stalletjie tydens die fees om jou foto te laat neem en plaas dit op sosiale media om aan die kompetisie deel te neem.
Vir meer inligting, besoek www.cvomarketing.co.za of skakel in by die Pinotage & Biltong Festival sosiale media bladsye.
Die Pinotage & Biltongfees beywer hom vir verantwoordelike alkoholgebruik en geen alkohol sal aan onder 18’s bedien word nie. Die gebruik van openbare vervoer word aanbeveel.
