LifestyleMotoring

Bejaarde met dimensie dringend hulp nodig

'n Bejaarde man met dimensie, wat beskuldig word deur familie dat hy hul erf aan die brand gesteek het, is nou letterlik op straat.

Daar is tans geen heenkoms vir Rodney Waters (73) nie, want etlike weke gelede het ‘n voertuig en ander losstaande artikels in ‘n erf in SADC straat afgebrand en het aangetroude familie gevoel dit is nie meer veilig dat hy by hulle bly nie.

Nadat hy ‘n briefie in die hand gestop is, wat hy kan gebruik om te bedel, is hy strate toe gestuur.

Oom Rodney wat weens sy dimensie soos ‘n boemelaar op straat gebly het.
Hy was deurmekaar van die dimensie en het langs die pad in die gras geslaap.

Dit is hier waar eerwaarde Kokkie Smith hom gekry het en hul lang pad van sukkel begin het om vir hom blyplek te kry.

Eerw. Smith het oom Rodney se hare laat sny, hom gemaklik gemaak en hom vir meer as twee weke by hom laat bly, maar besef dat Rodney voltydse sorg nodig het.

Godfrey Matshete, maatskaplike werker (SAVF Maatskaplike Dienste) en sy span het al alles moontlik probeer doen om Rodney te help.

Hulle het ook gereël vir ‘n tydelike ID-kaart, want Rodney het sy ID-kaart iewers verloor.

Eerw. Smith sê die groot krisis wat hulle het, is die feit dat Rodney dimensie het en voltydse sorg baie belangrik is.

Die SAVF Maatskaplike Dienste het letterlik elke sentrum en tehuis in Mpumalanga en selfs Gauteng gekontak om te kyk of iemand hom kan inneem.

Die meeste tehuise vra ‘n minumum van R9 000 per maand. Rodney kry net ‘n R2 000 Sassa-toelaag, wat duisende rande te min is om sorg in so ‘n tehuis te kan toelaat.

Daar is navraag gedoen by die familie wat hom uitgesit het oor die brand by hul huis in SADC-straat.

Die vrou het genoem dat sy ‘n agtjarige kind in die huis het en dat sy voel dit te gevaarlik is om oom Rodney by hulle te hou.

Volgens haar kyk sy reeds na oom Rodney se bejaarde suster.

Daar is ook boodskappe op Facebook vir oom Rodney se seun en dogter, wat al jare oorsee is, gestuur.

Sy seun het egter in ‘n boodskap op Facebook vir sy pa se aangetroude familie gesê dat hulle al 20 jaar nie kontak het met hom nie.

Beide sy seun en dogter het nie gereageer op die joernalis se boodskappe nie.

Die aangetroude familielid het beloof dat sy weer met oom Rodney se kinders en ‘n broer sal praat om te kyk of hulle nie die fondse kan bewillig dat hy in ‘n tehuis gehelp kan word nie.

Dit is nou twee weke later en daar is nog geen antwoorde verskaf oor moontlike hulp nie.

Eers. Smith doen ‘n dringende beroep op die gemeenskap of enige persoon wat die artikel lees om te kyk of hulle nie bydraes kan lewer nie.

“Daar is ‘n Tehuis wat bereid is om te help as daar nog R2 000 per maand bymekaar gekry kan word. As ‘n paar mense of sakelui elkeen ‘n paar rand bylas elke maand, sal oom Rodney versorg kan word,” het eerw. Smith gepleit.

Hy het bygelas dat oom Rodney in die tyd wat hy by hom was, geen skade berokken het aan hul huis nie en ook geen aggressie teenoor hom of sy huismense getoon het nie.

Persone wat bereid is om te help, kan eerw. Smith bel by 082 956 2663.

Eerw. Smith het rdl. San -Mari Wait bedank wat van haar kant af ook probeer rondbel het vir fondse vir oom Rodney, maar tot op hede is daar geen fondse vir oom Rodney beskikbaar nie en is hy nou al vir meer as ‘n maand haweloos.

“Oom Rodney is net die punt van die ysberg. Daar is soveel ander bejaardes in ons land wat geen heenkome het nie.”

 

 

 

 

 

 

 

Back to top button