NELSPRUIT – ‘n Vrou wie op pad na ‘n verjaardag partytjie was, is Woensdagaand in Kokopelli se parkeerterein deur twee mans aangeval en oorrompel.
Me. Norma Stapelberg was op pad om haar vriende te ontmoet toe sy deur twee jong boosdoeners beroof is. Hulle het haar grond toe gedwing en met ‘n mes gesteek. Sy het beserings aan haar linkerarm en hand opgedoen.
Haar persoonlike besittings, insluitend ‘n geskenk wat sy vir haar vriendin gekoop het en selfoon waarop sy tydens die aanval gepraat het, is deur die mans gebuit. Stapelberg het gesê dat sy nie veel van die insident kan onthou nie, net die slag toe sy op die grond geval het. “Ek was baie geskok, maar dit is nie die eerste keer wat dit met my gebeur het nie,” sê sy.
Haar enigste wens na die aanval was dat niemand ‘n groot ophef moes maak nie, aangesien sy vasberade was om haar vriendin se verjaardag saam met haar te vier.
Beamptes van J&M Sekuriteit was eerste op die toneel. ‘n Deeglike soektog in die digbebosde area langs die parkeerterrein het egter niks opgelewer nie.
Me. Lise Bouwer, mede-eienaar van Kokopelli, het by navraag gesê dat sy baie geskok oor die voorval is.
“Ek wil egter die publiek gerusstel. Daar sal nou elke aand, sewe dae per week,
‘n J&M Sekuriteitswag op diens wees. Ons het wel sekuriteitsbeamptes met paniekknoppies en flitsligte, maar ene Gibson het die betrokke aand nie opgedaag vir werk nie en ‘n ander wag het eers om 20:00, ná die voorval reeds plaasgevind het, opgedaag.”
Me. Elmarie Dry, mede-eienaar van Kokopelli, het bygevoeg dat hulle alles in hul vermoë gaan doen om te verhoed dat só ‘n voorval weer plaasvind. Meer ligte sal opgerig word en ‘n permanente wag is aangestel om gaste se veiligheid te verseker.



