Jong vrou vir vier ure aangehou en beroof

BURGERSFORT – ‘n Vrou is Dinsdagaand deur ‘n nagmerrie-ervaring wat bykans vier uur geduur het nadat sy deur drie onbekende mans met haar eie Bybel deur die gesig geslaan en later van haar geld, foon en tablet beroof is. Me. Hettica van Schalkwyk het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel hoe sy aangehou is terwyl die rowers …

BURGERSFORT – ‘n Vrou is Dinsdagaand deur ‘n nagmerrie-ervaring wat bykans vier uur geduur het nadat sy deur drie onbekende mans met haar eie Bybel deur die gesig geslaan en later van haar geld, foon en tablet beroof is.

Me. Hettica van Schalkwyk het aan Steelburger/Lydenburg Nuus vertel hoe sy aangehou is terwyl die rowers haar beveel het om haar eie huis leeg te dra.

“Die rowers het geen simpatie met my gehad nie. Die een het my Bybel gevat en my deur die gesig geslaan,” vertel sy.

Volgens haar het sy omstreeks 23:00 as gevolg van ‘n geluid by haar veiligheidshek wakker geword en gaan ondersoek instel.

“Die drie mans was reeds deur die hek toe ek hulle sien. Ek het die veiligheidsknoppie as gevolg van skok laat val toe hulle my oorweldig. Hulle het my na die kamer gevat waar my hande met draad vasgemaak is en my beveel om op die bed te sit,” vertel Van Schalkwyk.

Sy sê die een man het in Afrikaans met haar gepraat terwyl die ander drie rowers met mekaar in ‘n etniese taal gekommunikeer het.

“Die rowers het heeltyd ‘n mes teen my rug gehou. Hulle het al my skilderye afgehaal om te kyk of daar ‘n kluis is. Hulle het gedurig vir my geskreeu dat ek jok en dat hulle geld soek. Dit is toe dat ek my selfoon en tablet aanbied,” vertel Van Schalkwyk.

Sy herhaal hoe sy na haar motor geneem is waar die rowers haar beveel het om al die elektroniese toestelle in die kar te laai.

“Terwyl ek al my goed self vir hulle moes laai het die rowers hulself met toebroodjies gehelp,” herhaal sy.

Sy is in haar familie se voertuig gelaai en geblindoek.

“Hulle het op die grondpad by die treinspoor na Ohrigstad se kant toe gery waar hulle by die lokasie afgedraai het. Na ‘n lang tydperk is daar by ‘n huis stilgehou en met ‘n vrou gepraat waar hulle my besittings afgelaai het,” vertel sy.

Volgens haar kon sy aflei dat die rowers stry oor waarheen hulle haar moet vat om geld te trek.

“Daar is op Magaba garage besluit. Na die bestuurder die een rower daar afgelaai het, het die ander twee, met my in die kar, ‘n draai gery. Toe die man terug by die motor kom, het een my met die vuis geslaan en gesê dat ek tot tien moet tel voor ek my oë moet oopmaak.

“Hy het beveel dat ek dan moet huis toe ry en gaan slaap,” vertel sy.

Van Schalkwyk wil hê mense moet bewus wees dat dit met hulle ook kan gebeur.

“Ek het nooit gedink dat ek ‘n slagoffer sal word nie,” het Van Schalkwyk gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Mpumalanga News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button