Videos: Emfuleni-speaker jaag verslaggewer uit raadsaal
Chaos het vroeër vandag tydens 'n raadsvergadering by die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ontstaan toe 'n verslaggewers uitgejaag is.
Die speaker van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, Sibongile Soxuza, het vanoggend Vaalweekblad se nuusverslaggewer uit ‘n raadsvergadering gejaag. Die verwydering van die Burgemeester, Sipho Radebe, was blykbaar een van die punte op die agenda.
Die verslaggewer, Christiaan Cloete, is na die vergadering gestuur om ondersoek in te stel nadat Vaalweekblad klagtes ontvang het van lede van die publiek wat glo toegang tot hierdie belangrike vergadering geweier is.
Die verslaggewer het ook na die vergadering gegaan om uit te vind oor die lot van die munisipaliteit se burgemeester.
‘n Man het gemerk die verslaggewer is besig om die verrigtinge te verfilm, op hom afgestap, hom eenkant geroep en gevra waarhom hy die verrigtinge verfilm.
Die joernalis het dadelik sy perskaart getoon en verduidelik dat hy van die koerant af is en verslag doen oor die raadsvergadering.
Daar is ook verduidelik dat wat op die vergadering gebeur in publieke belang is.
‘n Amptenaar het die verslaggewer toestemming gegee om die raadsaal binne te gaan en die verslaggewer het langs ‘n kamerman, wat reeds besig was om die vergadering te verfilm, gaan staan en van daar af die verrigtinge verder verfilm.
Die speaker het toe aan die verslaggewer gesê: “Voordat ek die vergadering begin het, het ek die reëls uitgelê. Lede van die publiek word nie toegelaat om foto’s te neem nie. Sekuriteit, neem hierdie man uit!”

Sekuriteitswagte het die verslaggewer toe aan die arm uit die raadsaal begelei.
Hierop het raadslede in die ANC-banke die verslaggewer verder uitgejou en geskree: “Hamba!”
Vaalweekblad het in die verlede nog nooit toestemming nodig gehad om vanuit ‘n publieke vergadering te berig nie en beoog om navrae aan die speaker se kantoor te rig.
Read original story on vaalweekblad.com