Willem Kruger-saak: G’n gemene spel vermoed, polisie ondersoek duur voort
AfriForum sê beskikbare bewyse staaf nie bewerings van gemene spel nie, maar die SAPD se ondersoek is steeds onderweg.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het gister ‘n verklaring uitgereik waarin daar word gesê dat geen gemene spel gelei het tot Willem Kruger se dood nie.
Willem (29) het in November verlede jaar vermis geraak en die storie het mense van heinde en ver aangegryp.
Middelburg Observer het vanoggend Willem se pa, Tian (’n bekende boer van die Loskopvallei), vanoggend gekontak na aanleiding van die verklaring wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid uitgereik het.
Hy wou nie te veel uitbrei oor die verklaring nie en het gesê hulle staan daarby.
Sy selfoon was op luidspreker en ’n ander persoon, wat ook in die bakkie was, wat nie sy naam wou gee nie, het gesê: “Willem voor my grootgeword het. Dit was nie sy geaardheid nie, hy sou nie in die rivier ingery het nie. Ons kan niemand beskuldig nie, want daar is geen bewyse nie.”
Tian het nie verdere kommentaar gelewer nie.
AfriForum se persverklaring lui: “Ná ’n noukeurige ondersoek van die omstandighede rondom die dood van Willem Kruger, is AfriForum se privaatvervolgingseenheid van mening dat die beskikbare bewyse nie bewerings van gemene spel ondersteun nie. Die eenheid het op 12 April met die Kruger-familie in Pretoria vergader om sy ontleding van die getuienis en beëdigde verklarings wat tot dusver ingesamel is, bekend te maak.
“Willem se pa, Tian, het in Februarie die eenheid om hulp genader om die omstandighede rondom sy seun se dood te ondersoek. Willem het op 13 November 2022 verdwyn nadat hy ’n rampartytjie by ’n lodge naby Morgenzon, Mpumalanga, bygewoon het. Nege dae later (22 November) is sy liggaam in sy bakkie in die Vaalrivier gevind.
“Die privaatvervolgingseenheid betuig sy innige meegevoel met die familie, wat meer as vyf maande se angs en sekondêre trauma moes verduur, wat aangevuur is deur wilde bespiegeling oor die oorsaak van Willem se ontydige dood. Uit die staanspoor het die eenheid dit duidelik gemaak dat dit nie deur berigte en mediaspekulasie gelei sal word nie en uitsluitlik op die objektiewe feite en gestaafde bewyse sal staatmaak.
“In ’n moeilike en [by tye] emosionele ontmoeting met die Kruger-familie het advokaat Gerrie Nel die verskillende bevindings [se besonderhede] uiteengesit, wat ’n ontleding van die data van Willem se sporthorlosie; die GPS-data van sy voertuig se opsporingstoestel; selfoontoringdata; nadoodse bevindings; en beëdigde verklarings van verskeie mense in die omgewing die nag, ingesluit het.
“In opdrag van die familie sal die eenheid nou fokus op die privaatspeurders wat die trauma en desperaatheid van ’n gesin misbruik het om hulself te verryk.
“Die eenheid moet egter vir Adjudant-Offisier David Nhlapo komplimenteer wat puik werk gedoen het en met die eenheid saamgewerk het. Sy speurwerk, ondersteun deur die eenheid, het die proses gedryf.
“Daar is ’n paar uitstaande aspekte van ’n prosedurele aard wat in die dossier ingesluit moet word, asook onafgehandelde kwessies wat finaliseer moet word ten einde hierdie dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag voor te lê.”
Read original story on www.citizen.co.za