Innibos skud sy vere reg vir groot fees die jaar

Maak gereed vir nog 'n unieke ervaring in die Laeveld en 'n fees gevul met 'n drama-, komedie-, leefstyl-, musiek-, kuns- en boekeprogram.

Die Laeveld skud sy vere behoorlik reg vir Innibos, wat in Junie vanjaar weer ’n volwaardige kunstefees in Mbombela aanbied, nadat Covid-19-regulasies die vorige twee jaar se feestelikhede gekortwiek het.

Die feesdatum is 29 Junie tot 2 Julie en oudergewoonte is die feesterrein by Hoërskool Bergvlam in die stad.

“Ons is ongelooflik opgewonde om weer ’n volwaardige fees met ’n propvol ‘n drama-, komedie-, leefstyl-, musiek-, kuns- en boekeprogram aan te bied,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Die tema vir vanjaar se kunstefees is ‘Vars’ wat ons opgewondenheid weerspieël om opnuut vermaak en die kunste na die Laeveld te bring.”

Musiek is steeds een van die grootste trekpleisters, en die baie gewilde hoofverhoogkonserte gaan elke aand sorg vir prima vermaak. Die room van Afrikaanse musiekkunstenaars sal al drie die aande toon aangee, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Spoegwolf, Bernice West, Elandré, Demi Lee Moore, Droomsindroom, Sunset Sweatshop en Elvis Blue, om maar net ’n paar te noem.

Sondagaand word die fees afgesluit met ’n gratis Loof Hom Innibos-konsert met Jo Black as gaskunstenaar by die nabygeleë Church Unlimited.

Andy Lubbe, die feesdirekteur, sê dié konserte bied uitstekende waarde vir geld. “Die feesterreintoegang sluit ’n vol dag se vermaak op die terrein in, plus ’n drie-uurlange konsert van topgehalte die aand. Ons weet almal moet die rieme dun sny, maar nét so moet die gemoedere gelig word. Innibos wil dít bied.”

Splinternuut op die feesterrein is die Wingerd-kuiertuin in die kunspark. Feesgangers sal wyn van verskillende landgoedere kan proe (en koop). Gemaklike kuiertafels, kunsstalletjies en, van kos-demonstrasies tot rustige musiek op die verhoog, sal dit ’n ware oase vir asemskep wees. Gratis, kort teaterstukke en gesprekke word aangebied in die Laevelder Boma-teater, en vir die kleingoed is daar kinderteater en ander aktiwiteite by die Woelwaters. Die Bosmôl op die feesterrein het ook talle stalletjies met pragtige handgemaakte produkte, heerlike feeskos en ’n pretpark met opwindende ritte.

Aan die toneelfront kan feesgangers die doyenne van Afrikaanse teater, Sandra Prinsloo, te siene kry in die drama Kamphoer. Ligter oomblikke op die verhoog sluit in die komedies Laerskool Noord met Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee, Reünie uit die pen van Dana Snyman (met Frank Opperman), en Hans gee Herklaas horings (met Charlie Bouguenon). Mirakel met onder andere Dawid Minnaar, Edwin van der Walt en Rolanda Marais is ook een van die fees se vlagskipproduksies.

Daar kan uitgesien word na puik musiekproduskies met o.a. Coenie de Villiers en André Schwartz in Grensloos, die Opera Extravaganza met o.a. Loveline Madumo en Zanta Hofmeyer en Jak de Priester en Bibi Slippers se produksie de Priester, de Slippers en de Gin, wat beloof om ’n unieke ervaring te wees.

Hektoegang na die feesterrein is per persoon per dag (kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang): Donderdag, 29 Junie, R200; Vrydag, 30 Junie, R225; Saterdag, 1 Julie, R250. Goue sirkel-kaartjies vir die hoofverhoogkonserte is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie. ’n Weekkaartjie kos R600. Kaartjies is te koop by Computicket.

Pensioenarisse (60 jaar en ouer) betaal R100 per dag per persoon en dié kaartjies is nie aanlyn beskikbaar nie, maar kan tydens die fees by Hek 1 gekoop word, of van 15 Mei by die Innibos-kantoor in De Villiersstraat, Sonpark, in Mbombela.

Vir die volledige program en skakels na die kaartjieverkope, gaan na innibos.co.za.

Read original story on lowvelder.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button