7 vermeende renosterstropers vas in die Oos-Kaap

Twee van die verdagtes – wie in Mthatha gearresteer is – het glo verlede jaar uit die Makhanda-korrektiewe fasiliteit ontsnap.

Sewe vermeende renosterstropers is die afgelope naweek op Mthatha in die Oos-Kaap in hegtenis geneem.

Drie van die verdagtes word vermoedelik met die voorval by Botlierskop, ‘n privaat wildreservaat naby Klein-Brakrivier in die Wes-Kaap, verbind ná ‘n renosterkoei op 2 Mei in die reservaat gestroop is.

Polisiewoordvoerder Adjudant Offisier Majola Nkohli sê die intelligensie-gedrewe operasie het oor twee dae gestrek. Daar is ook beslag gelê op huisbraakimplemente ter waarde van meer as R100 000.

Tydens die eerste voorval is vyf verdagtes in ‘n silwer Hyundai op Saterdag op die R61 roete in die rigting van Tarkastad, ongeveer 20km buite Komani, opgemerk.

Die polisie het die voertuig van die pad getrek en die verdagtes ondervra en deursoek. Beslag is gelê op huisbraakimplemente en ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat een van die insittendes met die voorval by Botlierskop verbind word.

Op Sondag het die polisie se ondersoek ‘n taakspan na ‘n woning in Mthatha gelei, waar nog twee verdagtes, wat verlede jaar vanuit die Makhanda-korrektiewe fasiliteit ontsnap het, gevind is. Dié twee mans word vermoedelik ook met die Botlierskop-voorval verbind.

Die verdagtes word daarvan verdink dat hulle by verskeie renosterstropery in die Oos- en Wes-Kaap betrokke was. Hulle bly in aanhouding en verskyn vandag in die hof. Dit is nog nie bekend in watter hof die verdagtes sal verskyn nie.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button