Video: Mosselbaai-hond op berg gevind na motorongeluk
'n Soektog is van stapel gestuur na die viervoetige vriend van Tertius en Rina Calitz weggehardloop het na 'n botsing.
‘n Hond van Mosselbaai wat vermis geraak het nadat hy Dinsdagoggend saam met sy eienaars in ‘n motorongeluk in Meiringspoort buite Oudtshoorn betrokke was, is gistermiddag gedurende ‘n dramatiese reddingspoging op die berg by Meiringspoort gered.
Die hond, Bulletjie, was saam met sy eienaars Tertius en Rina Calitz, op pad na Pretoria toe hulle by Dubbeldrift in ‘n ongeluk betrokke was. Die ongeluk het reeds eergisteroggend plaasgevind maar daar is eers teen ongeveer 13:00 eergistermiddag op die wrak afgekom.
Tertius is in die botsing dood en Rina is na ‘n hospitaal geneem. Bulletjie was egter skoonveld.
Die Oudtshoorn Dogs In Need het gisteroggend ‘n oproep van ‘n ondersteuner van die organisasie, Lee-Ann Johnson, gekry nadat sy ‘n wit-en-swart hond in Meiringspoort gesien het.

Algehele bestuurder van die organisasie, Marlene Mennie, en werknemer Patrick Zemba het vanaf Oudtshoorn na Meiringspoort gery en na Bulletjie begin soek.
Zemba het teen die berg opgekyk en Bulletjie gesien waar hy in ‘n klipskeur gesit het.
Mennie sê die rivier het begin afkom en die water het stormsterk gevloei. “Bulletjie wou nie dat ons hom vang nie en het ons gebyt waarna hy in die rivier gespring het. Patrick het sy hemp in die gietende reën uitgetrek en ons kon daarin slaag om Bulletjie uit die rivier te haal.”
Mennie en Zemba het Bulletjie warm toegedraai en vir hom kos en water gegee.
Hy is gistermiddag met familie van die Calitz-egpaar herenig.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com