Oud-verpleegster van Oudtshoorn se saak finaal uitgestel
Sy het na bewering ‘n jong meisie in die hospitaal aangeval terwyl sy van diens af was.
Die saak teen ‘n voormalige verpleegster van MediClinic Klein-Karoo in Oudtshoorn, wat van poging tot moord op ‘n 18-jarige meisie aangekla word, is vir die laaste keer uitgestel omdat getuies nie opgedaag het nie.
Christina Johanna Boshoff (62) word daarvan beskuldig dat sy op 25 Augustus 2021 ‘n saal by die hospitaal binnegegaan het en ’n pasiënt met ‘n skerp voorwerp in die been en gesig gesny het.
Sy het op 30 Augustus 2021 vir die eerste keer in die hof verskyn en is toe op waarskuwing vrygelaat. Die saak is later van die hofrol verwyder, maar weer teruggeplaas.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak in die Oudtshoorn-streekhof finaal en as voorkeursaak tot 18 Augustus uitgestel.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com