Bloedige gevegte maak opslae in Middelburg na nóg ‘n aanval

Waarskuwing: Hierdie berig bevat grafiese inhoud en foto's wat sommige lesers mag ontstel.

‘n Reeks gewelddadige aanvalle waarin ‘n man doodgeslaan en ‘n ander se oë uitgesteek is tydens twee van hierdie insidente, wek kommer onder die inwoners van Middelburg in Mpumalanga.

Die mees onlangse geval op 17 Junie, is dié van Franco van der Merwe (42) wat ’n diep sny aan sy kop opgedoen het nadat hy by die Dros aangerand is. Hy weet nie presies wat gebeur het nie, maar vermoed sy kop het ’n stoel getref, toe hy van agter af aangeval is.

Die persoon wie Van der Merwe glo verantwoordelik is vir die aanval – ’n jong sakeman – is genader vir kommentaar, maar het verkies om nie nou iets oor die geveg te sê nie.

Na wat verneem word is daar nog nie ’n aanrandingsklagte by die polisie gelê nie en die persoon wat hy beskuldig se naam mag daarom nie genoem word nie.

Die aanval en skade

Van der Merwe se kop moes met steke geheg word en hy het rekonstruktiewe operasies aan sy gesig ondergaan. Sy oog is ook beskadig en benodig mediese behalndeling.

Hy vertel nadat hy bebloed huis toe is, is daar later ook op hom geskiet by die Ouhout Meenthuise.

Bure het ’n bakleiery gehoor tussen ’n man en ’n vrou en kort daarna het drie skote geklap. Die polisie is gekontak, maar met hulle aankoms was hy reeds weg.

Van der Merwe sê hy is nie raakgeskiet nie, maar ’n werknemer van sy sake-onderneming het hom hospitaal toe geneem omdat sy kopwond wat hy opgedoen het by die Dros, erg gebloei het.

‘n Algemene verskynsel

Dit is nie die eerste geval waar mense ernstig beseer is tydens gevegte en aanvalle in Middelburg nie.

  • Groot geheimhouding het in April geheers nadat ’n jong man se keel byna afgesny is met ’n skerp voorwerp (waarskynlik ’n drankbottel) by ’n kuierplek. Al die betrokkenes en die slagoffer wou nie praat oor die voorval nie, maar ’n foto wat die joernalis onder oë gehad het, wys ’n lang en diep sny aan sy keel.
Ruwan Dippenaar.
  • In dieselfde tyd is die 21-jarige Ruwan Dippenaar se neus vergruis toe hy van agter af aangeval en hy op sy gesig geval het. Hy het die aand by Hoofkantoor gekuier en wou huis toe stap, toe die voorval tussen geboue naby Cowen Ntulistraat gebeur het.
  • Oor die Paasnaweek het die vuiste geklap by ’n ander kuierplek en is die betrokkenes polisie toe vir aanrandingsklagtes.
Chris Reynierse.
  • Van die gevegte dateer so ver terug as 1987. Chris Reynierse is op 13 November 1987 in die gesig geslaan met ’n bierglas by die destydse JB’s (later Libra). Hy wou bakleiers, wat sy vriend aangeval het, uitmekaar probeer maak toe hy geslaan is. Sy regteroog is so erg beseer, dat dit wat oor was in sy oogkas die volgende dag in die Jakaranda Hospitaal verwyder is. Tot vandag toe weet hy nie wie hom met die glas geslaan het nie.
  • Skillie van der Merwe is in 2006 by Tracers Biker Bar met die vuis op die oog geslaan en sy regteroog is vier maande later verwyder. Hy wou ook bakleiers uitmekaar haal. Sy oogbal het gebars en hy het dadelik geen sig gehad nie. Alhoewel die saak hof toe is, het die landdros dit uit gegooi omdat dit vir hom ‘gelyk het na ’n kroegbakleiery’.
Louis Groenewald.
  • Louis Groenewald het in Maart 2013 weens breinbloeding gesterf, nadat hy die vorige dag deur Freddie Kidson naby Sideline-nagklub katswink geslaan is. Kidson is ’n opgeskorte vonnis opgelê.
  • Antoon Viljoen is in April 2013 bebloed geslaan by Amazon’s Restaurant.
  • In Julie daardie selfde jaar moes Jaco Weyers steke kry, nadat hy ’n gapende wond aan sy kop opgedoen het by die Suits-kuierplek. Hy het gedink hy het geval, maar ’n vriend het later gesê dat hy gestamp is en met sy kop teen ’n pilaar en trapreling geval het.
  • Dewald Jacobs het in September 2014 – in sy matriekjaar – selfmoord gepleeg nadat hy deur twee mans buite Burger Hut aangerand is. Die vernederende aanranding is op videokamera vasgelê.
Ferdi van den Berg.
  • Ferdi van der Berg moes in September 2016 ’n operasie aan sy oogbank ondergaan nadat hy by die Middelburg Buiteklub aangerand is.
Abri Beukes.
  • Abri Beukes is in Junie 2018 só erg aangerand in die Suits-kuierplek, dat hy ’n operasie in die Wilgers Hospitaal moes ondergaan. Sy wangbeen moes met plate weer op sy plek geskuif word weens ’n ernstige fraktuur en sy oogbank en die been in sy wenkbrou is gekraak.
  • Riaan Bezuidenhout en Bret Alberts is in September 2019 by die Tracers Biker Bar aangerand. Riaan het ’n gebreekte kakebeen en harsingskudding opgedoen en Bret is behandel vir harsingskudding en snymerke bo sy linkeroog.
Dirk Kotze.
  • Dirk Kotze is in Maart verlede jaar met ’n glas in die gesig geslaan toe hy ’n geveg in die parkeerarea naby Hoofkantoor wou stop. Sy oog is byna heeltemal uitgeruk toe die glas hom van die kant af getref het.
  • Etlike maande later is Coenraad Oosthuizen se kakebeen op twee plekke gebreek na ’n vuishou en moes sy kakebeen met ’n plaat geheg word. Die geveg was buite die Oppi Plaas-kuierplek.
Bowen Kruger.
  • Die talentvolle sportman, Bowen Kruger, is in Julie 2022 ook met ’n glas in die gesig geslaan. Sy hoofslagaar is net gemis en hy moes steke kry.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button