11de verdagte in hof vir onwettige besit van R3.6m se perlemoen
'n Man wat glo twee keer van vorige tonele ontsnap het, het vandag sy eerste verskyning in Cradock gemaak.
‘n 43-jarige verdagte is Vrydag deur die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad-ondersoekspan vir die onwettige besit van perlemoen aangekeer.
Die verdagte sluit by sy tien medebeskuldigdes aan wat reeds in Mei by Algoapark, Gqeberha, vir onwettige besit van perlemoen en visvang sonder ‘n permit, gearresteer is.
Volgens woordvoerder Adjudant-offisier Ndiphiwe Mhlakuvana, word daar beweer dat die verdagte van twee vorige tonele ontsnap het en op daardie stadium onbekend aan die polisie was. Die saak is na die Valke vir verdere ondersoek verwys.
Die eerste geval was in Cradock in Mei 2021 waar 4 400 eenhede perlemoen ter waarde van R2m gevind is en die tweede geval was in Hofmeyr in Oktober 2021. Volgens Mhlakuvana is 65 sakke onwettige gevriesde perlemoen ter waarde van R1.6m gekonfiskeer.
Die totale kontantwaarde van die perlemoen wat gekonfiskeer is, is R3.6m. Volgens Mhlakuvana is twee voertuie wat gebruik is om die perlemoen te vervoer ook gekonfiskeer.
Die ondersoek deur die Valke het die verdagte met beide misdaadtonele in Cradock en Hofmeyr verbind. Die man wat Vrydag gearresteer is, sou vandag sy eerste verskyning in die Cradock-landdroshof maak.
Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com