Pretoria man vertel van riller nag na hy ontvoer is
Buiten vir die trauma van die ontvoering meen die slagoffer dat die polisie geweier het om ‘n saak oop te maak.
Ontvoerings vier hoogty in Gauteng waar verreweg die meeste voorvalle onder alle provinsies aangemeld is. ‘n Inwoner van Kwaggasrand in Pretoria sê dat hy ontvoer is en dat kapers vir ure met hom rondgery het om geld uit sy bankrekening te trek. Om alles te vererger wou die polisie nie ‘n saak open nie.
Daar was altesaam 2 367 ontvoerings in die laaste kwartaal van 2023 volgens die misdaadstatistiek wat onlangs deur Minister van Polisie, Bheki Cele, vrygestel is.
Hierdie syfer sluit nie net gevalle in waar ’n losprys vir die ontvoering geëis word nie, maar ook gevalle waar slagoffers ontvoer is om hulle te dwing om geld na ’n rekening oor te dra.
Statistiek dui daarop dat hierdie misdaad by nege uit die toptien polisiestasies vir misdade in Gauteng aangemeld is.
Die reg om so ’n misdaad aan te meld is egter ’n vlootverkoopsbestuurder van Pretoria-Wes deur die polisie ontneem.
Man vertel van riller nag
Willie Viljoen (52) is na die voertuigkaping van sy luikrugmotor op 16 Januarie by sy huis se voorhek in Kwaggasrand ontvoer en vir vier ure lank in verskeie voertuie rondgery.
Hy is tussen huise in Soshanguve afgelaai en moes te voet na die Hebron-polisie toe stap.
Dit is juis by hierdie polisiestasie waar daar vir hom nog ’n nagmerrie voorgelê het.
“Die polisiemanne by die stasie het geweier om my verklaring af te neem,” sê ’n ontstelde Viljoen.
Vrees dat hulle sy motor aan die brand gaan steek met hom in die kattebak toegesluit
Sy beproewing het na 22:00 begin. Hy het net by sy huis se hek aangekom, toe iemand aan sy voertuig se venster klop.
’n Verdagte met ’n rewolwer het hom gedwing om sy deur oop te maak en hy is uit sy motor gepluk waarna hy in die ontvoerders se voertuig in gedwing is. Sy kop is afgedruk sodat hy nie kon sien waarheen hulle ry nie.
“Hulle het voortdurend omgedraai en gestop sodat ek nie herwaarts of derwaarts geweet het nie,” vertel Viljoen.
’n Kaper in Viljoen se motor het hulle vergesel.
Die kapers het Viljoen gevra om sy selfoon se kode in te tik om by sy banktoep uit te kom.
Hy was te ontsteld om die sleutelkode vir sy selfoon te onthou.
Viljoen is mettertyd in die kattebak van sy eie motor gelaai met sy hande styf agter sy rug vasgemaak met plastiese kabelbande.
’Ek het nou nog nie gevoel in my hande nie,” vertel Viljoen.
Deurgaans is daar drie keer dreigemente gemaak dat hulle hom gaan skiet.
Toe sy voertuig uiteindelik met hom in die kattebak in ’n veld gestop het, het hy gevrees die kapers gaan die motor aan die brand steek.
“Ek het gehoor hoe een kaper die petroldoppie oopmaak, terwyl die ander kapers vir die opsporingstelsel gesoek het,” verduidelik hy.
Hy het probeer ontsnap deur die agterste sitplek se knoppie van die luikrugmotor uit te trek en die sitplek plat te druk.
Daarna het hy probeer om die agterste deur met sy voet oop te maak, maar die kinderslot was op en die deur wou nie oop nie.
“Ek het daarna stil vir God gevra dat als net gou moet gebeur,” sê hy.
Hy vermoed die kapers is dalk versteur want die motor is nie aan die brand gesteek nie en hy is weer in ’n ander voertuig gelaai.
In hierdie stadium het hy sy selfoonkode onthou. Die kapers is na ’n vulstasie sodat geld by ’n OTM via sy banktoepassing getrek kon word.
Die kapers het brandstof met die geld ingegooi. ’n Veiligheidsmaatskappy se voertuig het in daardie tyd verby die vulstasie gery.
Viljoen is daarna tussen huise naby Soshanguve afgelaai en hy het 2km na die Hebron-polisiestasie gestap.
“Niemand in die polisiestasie wou my egter help en eers ’n verklaring afneem nie. Dit was heeltemal ongelooflik,” sê hy.
Hy het ook nie meer sy selfoon gehad nie, maar kon dit regkry om sy vrou te bel. Sy seun het hom kom haal. Hulle is reguit na die Eugene Marais-hospitaal sodat hy vir skok en sy beseerde hande behandel kon word.
Polisie ‘ignoreer bewyse’, maak geen kontak met slagoffer
Wat die kapers nie geweet het nie, is dat Viljoen se voertuig drie opsporingstelsels ingehad het.
Die voertuig is op 17 Januarie by ’n winkelsentrum in Mabopane deur die opsporingsmaatskappy opgespoor en terugbesorg.
Steeds het Viljoen ’n stryd gehad om ’n verklaring af te lê.
Die dag daarna het hy na die Pretoria-Wes polisiestasie gegaan waar hy weer eens, volgens hom, moes ‘smeek’ om ’n saaknommer te kry.
“Nie eers die speurders wou my help nie. Uiteindelik het ’n konstabel my gehelp om die verklaring uit te skryf en ’n saaknommer te kry,” vertel Viljoen.
Vandeesweek, sowat ’n maand later, is hy steeds teleurgesteld in die polisie se optrede.
“Hulle het skaars belanggestel in die getuienis wat ek aangebied het, soos video’s wat ons van die vulstasie bekom het.”
Geen arrestasies is nog gemaak nie en die polisie het nog nie weer met Viljoen in aanraking gekom nie.
Kommentaar oor die voorvalle is deur Pretoria Rekord aan die provinsiale hoofkantoor van die polisie gerig, maar geen antwoorde is teen die tyd van publikasie ontvang nie.
Read original story on www.citizen.co.za