Man staar 1 004 aanklagte in gesig ná kinderpornografie gevind is
'n Man van die Wes-Kaap het gister in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie.
‘n Inwoner van Bothastrand buite Groot-Brakrivier in die Wes-Kaap staar 1 004 aanklagte van die besit van kinderpornografie in die gesig.
Die beskuldigde is ‘n 45-jarige man wat saam met sy ma woon. Hy is verlede jaar in Meimaand by sy luukse woning in hegtenis geneem.
Hy het gister weer in die Groot-Brakrivier-landdroshof verskyn. Die beeldmateriaal wat in sy besit gevind is sluit foto’s en videos in en daar is na wat verneem word babas betrokke.
Hy word ook aangekla dat hy kinderpornografie aan ‘n volwassene gewys het. Die beskuldigde is tydens ‘n vorige hofverskyning op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Hy moet weer op 24 Mei in die hof verskyn.
In ‘n afsonderlike saak het ‘n 25-jarige man van Mosselbaai gister in die plaaslike landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.
Mossel Bay Advertiser berig Kaptein Shaun van der Heever van die SAPD se ondersoekende sielkunde afdeling het tydens die borgaansoek aan die hof gesê die foto’s van kinderpornografie wat op dié beskuldigde se selfoon gevind is, is uitsonderlik grusaam.
Die saak is uitgestel na 3 April vir die verdagte om te besluit of hy wil getuig of slegs ‘n verklaring vir sy borgaansoek wil inhandig.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com