Mans wat glo leeus in Potchefstroom verkoop: Saak uitgestel

Nico Scholtz (32) en Huu Tao Nguyen (53) sal eersdaags weer in die hof verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Twee mans het vroeër vandeesweek in die Potchefstroom-landdroshof verskyn nadat hulle glo Vrydag probeer het om ses leeus op ‘n plaas buite Potchefstroom te verkoop.

Die Valke het op die twee verdagtes toegeslaan en Nico Scholtz (32) en Huu Tao Nguyen (53) is in hegtenis geneem.

Hulle het die week verskyn op aanklag van oortreding van die Wet op Biodiversiteit Nr. 10 van 2004, sameswering om ‘n misdryf te pleeg en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Luitenant-Kolonel Tinyiko Mathebula, die provinsiale woordvoerder van die Valke, sê hulle taakspan vir ernstige en georganiseerde misdaad het ‘n leidraad ontvang van ‘n man wat onwettig leeus verkoop. “Ons het die leidraad op 3 Julie ontvang en die verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem.”

Die verdagte het glo aangebied om ses leeus aan ‘n potensiële koper te verkoop. Daarna het hulle ‘n man ontmoet wat hulle na ‘n plaas geneem het waar die leeus aangehou is. ‘n Transaksie vir die leeus is gemaak en met die terugkeer na Potchefstroom, het die Valke toegeslaan en die verdagtes in hegtenis geneem.

Tydens die ondersoek is ‘n geweer, 50 rondtes ammunisie, ‘n Toyota Fortuner en ‘n sleepwa in beslag geneem.

Die saak is tot 16 Julie vir ‘n formele borgtogaansoek uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button