Oos-Kaapse hof vonnis vrou wat haar suster aan die brand gesteek het
Sinazo Mrwetyana het haar suster, Sindiswa, aangeval oor 'n motorbattery wat laasgenoemde uit hulle oorlede moeder se boedel verkoop het.
Sinazo Mrwetyana is onlangs in die landdroshof in Nxuba (Cradock) in die Oos-Kaap vir 15 jaar tronk toe gestuur vir poging tot moord na sy erken het dat sy haar suster aan die brand gesteek het.
Luxolo Tyali, die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die vrou het haar suster, Sindiswa Mrwetyana (41), verlede jaar op 12 November by hulle huis in Lingelihle buite Nxuba aangeval oor ‘n motorbattery wat Sindiswa uit hulle oorlede moeder se boedel verkoop het.
Sinazo het tydens die hofverrigtinge getuig dat sy nie onder die invloed was tydens die bakleiery nie.
Sinazo het brandspiritus oor Sindiswa uitgegooi en haar toe met ‘n brandende sigaretaansteker gedreig. Die twee susters het fisies baklei en Sindiswa se kop het vlamgevat. Sinazo het gaan water soek om oor haar suster te gooi, maar Sindiswa het ernstige brandwonde opgedoen.
Tydens haar skulderkenning het Sinazo erken dat sy verkeerd opgetree het en haar berou oor haar aksies en die gevolge daarvan uitgespreek.
Tydens ondervraging deur staatsaanklaer Unathi Kwebulana, het Sindiswa gesê sy vergewe haar suster, maar het versoek dat die reg sy loop moet neem.
In die slagoffer se impakverslag het die hofbeampte, Fundiswa Soni, gesê Sindiswa se lewe is onherroeplik verander.
Barry Madolo, die Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, het ná die vonnis die ondersoekspan geloof vir hulle werk.
Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com