Skoolseun van Polokwane vertel oor bul-video wat duisende laat skater
Wat begin het as ’n onskuldige uitdaging het vinnig verander toe dié tiener van Limpopo oor ’n draad gevlieg het. En die video? Duisende het daarna gekyk!
Mianter de Wet (16) het gedink hy kan ‘n bul ry soos ‘n perd – maar die bul het gou gewys wie die eintlike baas is.
Mianter vertel aan Polokwane Review hoe hy onlangs op ‘n reuse-Chianina-bul gespring het, net om sekondes later deur die lug geslinger te word – reg oor ‘n 2.4m-hoë draad.
Die video van sy wilde rit het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei en duisende kykers laat skater.
Só het die scenario min of meer afgespeel: Mianter stap stadig, voet-vir-voet, na die enorme Chianina-bul wat rustig langs die draad lê.
Dié lê doodstil, behalwe vir die sonbesies wat skree en die bul se stert wat net af-en-toe ‘n vlieg wegwaai.
In ‘n oogwink spring hy op die bul se rug, maar voordat hy hom gemaklik kan maak, spring die bul op en met ‘n bokspring sorg hy dat Mianter deur die lug trek.
Kyk die video hier:
‘Ons wou eintlik net perdry’
“Ek bly al my hele lewe op die plaas en het al baie daaraan gedink om op ‘n bees te ry, soos op ‘n perd. Dit was egter die eerste keer wat ek dit probeer het,” vertel hy.
Mianter is ‘n leerder aan Hoërskool Pietersburg en het saam met sy vriend, Johan Scholtz vir die naweek op die plaas buite die stad gekuier.
Hy vertel dat hulle Sondag op die plaas rondgery het toe hulle by die beeste en perde aankom.
“Johan wou perdry, maar dit het nie reggekom nie. Toe besluit hy om die perd vir ‘n bees te ruil. Hy was egter te bang om te probeer en ek het besluit ek is nie bang nie, ek sal hom wys hoe dit gedoen word.”
Johan het sy selfoon geneem en die gebeurtenis afgeneem.
Die video het binne ure op sosiale media soos ‘n veldbrand versprei, met meer as 100 000 kykers wat dié petalje wou sien.
“Ek en die bees, wat Ianko se naam het, was redelik rustig en ek was glad nie op my senuwees nie. Ek het gedink hy gaan my afgooi, maar nie so hoog dat ek oor die 2.4m draad geslinger word nie. Hy is nie mak genoeg dat ek net na hom toe kan stap en hom vryf nie.”
Geen beserings, maar mamma en pappa was streng
Behalwe vir Mianter se ego het hy geen ernstige beserings opgedoen nie.
Hy het wel Maandag na die voorval by die huis gebly omdat sy regter enkel, wat in die doringdrade vasgehaak het, eers behandel moes word. Verder het hy net baie krapplekke oor sy lyf opgedoen.
“My pa was nie op die plaas nie. Maar dit het hom kans gegee om eers af te koel, want hy was baie kwaad. My ma het my ook uitgetrap. Ek sal dit weer doen, net nie so naby aan ‘n draad nie,” erken Mianter met ‘n groot glimlag.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za