Vrou snik onbedaarlik toe broer se moordenaar ná 5 jaar gevonnis word
’n Vrou se rou snikke kon ver in die gange van die Middelburgse streekhof gehoor word nadat die man wat skuldig bevind is aan die moord op haar broer, gevonnis is.
Christine de Wet (66) het haar hande in die lug gegooi en gesê: “Dankie Here!” en daarna in trane uitgebars toe die man wat vir haar broer se dood verantwoordelik was, tronk toe gestuur is.
Johannes Bernardus (JB van der Merwe) is in die Middelburgse streekhof vir 10 jaar tronk toe gestuur vir die moord op Koos Flynn (53) in 2020.
Van der Merwe is op dieselfde dag skuldig bevind en gevonnis deur streeklanddros Deon Minnie.

De Wet het na die vonnisoplegging buite die hofdeur teen die muur gaan staan en met haar kop teen die muur is haar rou snikke ver in die hofgange gehoor.
Dit was ’n lang pad vir De Wet sedert Flynn op 19 Junie 2020 met ’n uitlaatpyp oor die kop geslaan is.

Van der Merwe het sy verloofde, Sandy du Toit, en Flynn kaal in die bed betrap. Flynn het ’n ernstige kopwond in die daaropvolgende gebeure opgedoen. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie en is ’n maand later in die Witbank-hospitaal oorlede.
Flynn se boesemvriend, Piet Hearne, sou ook in die saak getuig, omdat hy die nag nadat Flynn oor die kop geslaan is, ook op die toneel was.

“Ek het verlede jaar vir Piet gesê ek of hy sal seker al dood wees, dan gaan die saak nog aangaan. ’n Week later is hy oorlede,” het De Wet gesê. Hearne is in April 2024, voordat die verhoor begin het, aan ’n hartaanval oorlede.
De Wet sê sy en haar susters, Annatjie Swanepoel, Engela Brits en Johanna Probert (van Villiers) is dankbaar dat daar geregtigheid vir hul broer se dood is.

Terwyl die hof vir ’n paar minute verdaag het voor die vonnisoplegging, het sy vertel dat Flynn een van ’n tweeling was. “Sy tweelingboetie het op driejarige ouderdom van trappies afgeval en het bloeding op die brein opgedoen. Presies 50 jaar later het Koos ook weens ’n breinbesering gesterf!”
Sy het aanmekaar die trane afgevee toe sy meld dat sy elke hofverskyning van Van der Merwe bygewoon het. Saam met die verhoor het Van der Merwe 25 keer in die hof verskyn en streeklanddros Minnie het ook daarvan melding gemaak.
In die kort video wat van haar geneem is, het sy gesê dat sy die Here gevra het “dat die beker by my verby moet gaan en dit is nou verby.”
Oor die skuldigbevinding was haar kommentaar: “Ek is so dankbaar vir die uitspraak van skuldig, daar is nie meer ‘n omdraaikans nie, maar dankie Here, U weet die beste.”
Die afgelope vier jaar het Middelburg Observer verskeie kere berig oor die nag se gebeure en ook oor die verhoor.

Du Toit het in haar getuienis gesê dat sy seksueel verkeer het met Flynn en nie gesien het toe Van der Merwe hom met die uitlaatpyp geslaan het nie, omdat sy klaarblyklik geval en haar bewussyn verloor het. Volgens haar het sy ook net gesien dat hy die pyp swaai.
Sy het die hele tyd in die hof rondgekyk terwyl sy getuig het.

Landdros Minnie het haar weergawe in twyfel getrek en gemeld dat sy net herhaal het wat Van der Merwe getuig het in die verhoor.
Van der Merwe het sy weergawes van die gebeure drie keer verander. Vir die ondersoekbeampte en De Wet (die nag van die gebeure) het hy gesê dat hy vir Flynn met die pyp geslaan het. Later het hy vir die maatskaplike werker vertel dat hy die pyp met sy linkerhand gegooi het en in sy finale getuienis in die verhoor het hy te kenne gegee dat hy die pyp met sy regterhand van links na regs geswaai het.

Die ondersoekbeampte sers. Osia Banze, die dokter se lykskouingsverslag en De Wet se getuienis is deur landdros Minnie as geloofwaardig aanvaar.
@middelburgobserver Vrou huil van dankbaarheid buite hofdeur nadat die man wat vir haar broer se dood verantwoordelik was, 10 jaar tronk toe gestuur is in die Middelburg Streekhof. Haar broer is met ‘n uitlaatpyp oor die kop geslaan.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za