Video: Vrou snik onbedaarlik van dankbaarheid nadat haar broer se moordenaar gevonnis is
’n Vrou se rou snikke kon ver in die hofgange gehoor word nadat die man wat skuldig bevind is aan die moord op haar broer, gevonnis is.
Christine de Wet (66) het haar hande in die lug gegooi en gesê: “Dankie Here!” en daarna in trane uitgebars toe die man wat vir haar broer se dood verantwoordelik was, tronk toe gestuur is.
Johannes Bernardus (JB van der Merwe) is in die Middelburg Streekhof vir 10 jaar tronk toe gestuur.

Hy is op dieselfde dag skuldig bevind en gevonnis deur streeklanddros Deon Minnie.
Christine het na die vonnisoplegging buite die hofdeur teen die muur gaan staan en met haar kop teen die muur is haar rou snikke ver in die hofgange gehoor.
Dit was ’n lang pad vir Christine sedert haar broer, Koos Flynn (53), op 19 Junie 2020 met ’n uitlaatpyp oor die kop geslaan is.

Van der Merwe het sy verloofde, Sandy du Toit, en Koos kaal in die bed betrap en het Koos ’n ernstige kopwond in die daaropvolgende gebeure opgedoen. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie en is ’n maand later in die Witbank Hospitaal oorlede.
Koos se boesemvriend, Piet Hearne, sou ook in die saak getuig, omdat hy die nag nadat Koos oor die kop geslaan is, ook op die toneel was.

“Ek het verlede jaar vir Piet gesê ek of hy sal seker al dood wees, dan gaan die saak nog aangaan. ’n Week later is hy oorlede,” het Christine gesê. Piet is in April 2024, voordat die verhoor begin het, aan ’n hartaanval oorlede.
Christine sê sy en haar susters, Annatjie Swanepoel, Engela Brits en Johanna Probert (van Villiers) is dankbaar dat daar geregtigheid vir hul broer se dood is.

Terwyl die hof vir ’n paar minute gebreek het voor vonnisoplegging, het sy vertel dat Koos een van ’n tweeling was. “Sy tweelingboetie het op driejarige ouderdom van trappies afgeval en het bloeding op die brein opgedoen. Presies 50 jaar later het Koos ook weens ’n breinbesering gesterf!”
Sy het aanmekaar trane afgevee toe sy meld dat sy elke hofverskyning van Van der Merwe bygewoon het. Saam met die verhoor het Van der Merwe 25 keer in die hof voorgekom en het streeklanddros Minnie ook daarvan melding gemaak.
In die kort video wat van haar geneem is, het sy gesê dat sy die Here gevra het “dat die beker by my verby moet gaan en dit is nou verby.”
Oor die skuldig uitspraak was haar woorde net: “Ek is so dankbaar vir die uitspraak van skuldig, daar is nie meer ‘n omdraaikans nie, maar dankie Here, U weet die beste.”
Die afgelope vier jaar het die Observer verskeie kere berig oor die nag se gebeure en ook oor die verhoor.

Sandy du Toit het in haar getuienis gesê dat sy seksueel verkeer het met Koos en nie gesien het toe Van der Merwe hom met die uitlaatpyp geslaan het nie, omdat sy klaarblyklik geval en haar bewussyn verloor het. Volgens haar het sy ook net gesien dat hy die pyp swaai.
Sy het die hele tyd in die hof rondgekyk terwyl sy getuig het.

Landdros Minnie het haar weergawe in twyfel getrek en gemeld dat sy net herhaal het wat Van der Merwe getuig het in die verhoor.
Van der Merwe het sy weergawes van die gebeure drie keer verander. Vir die ondersoekbeampte en Christine (die nag van die gebeure) het hy gesê dat hy vir Koos met die pyp geslaan het. Later het hy vir die maatskaplike werker vertel dat hy die pyp met sy linkerhand gegooi het en in sy finale getuienis in die verhoor het hy te kenne gegee dat hy die pyp met sy regterhand van links na regs geswaai het.

Die ondersoekbeampte (sers. Osia Banze), die die dokter se lykskouingsverslag en Christine se getuienis is deur landdros Minnie as geloofwaardig aanvaar.
@middelburgobserver Vrou huil van dankbaarheid buite hofdeur nadat die man wat vir haar broer se dood verantwoordelik was, 10 jaar tronk toe gestuur is in die Middelburg Streekhof. Haar broer is met ‘n uitlaatpyp oor die kop geslaan.
