Hond gered ná sy deur slang gepik, ander honde gebyt en weggegooi is in stormwaterpyp
Met haar aankoms by People’s Dispensary for Sick Animals was die hondjie lyf so koud dat die veearts nie haar liggaamstemperatuur kon meet nie.
Dit gaan beter met Bokkie, die hond van Borcherds in die Wes-Kaap wat ‘n nagmerrie oorleef het. Maar, haar stryd is nog lank nie verby nie.
Bokkie is tans onder intensiewe sorg by die People’s Dispensary for Sick Animals (PDSA) in Conville nadat sy op 30 Maart erg beseer en vir dood agtergelaat, gevind is.
Volgens Marileen Greeff van Borcherds Paws, is Bokkie vermoedelik deur ‘n slang gepik en daarna deur twee groot honde aangeval toe sy uit Brucestraat geloop het om kos te gaan soek.
Tot oormaat van ramp is sy ná als, deur iemand in ‘n stormwaterpyp gegooi en vir dood gelos. Dit het toe ook begin reën.
Gelukkig het ‘n plaaslike diereliefhebber van Bokkie te hore gekom en dadelik na haar begin soek. Die volgende dag het hy die skaars-lewendige hond in die pyp gevind en uitgehaal.

Hy het onmiddellik vir Greeff gebel en hulle het Bokkie na die PDSA geneem.
“Sy was basies dood toe ons haar gekry het,” vertel Greeff. “Haar lyfie was só koud dat die veearts nie eens ‘n temperatuur kon kry nie.”
Die span by die PDSA het onverpoos gewerk om haar lewe te red – met ‘n haardroër om haar liggaam stadig te verwarm en ‘n verwarmde drup.
Alhoewel Bokkie reeds beter lyk, lê daar nog ‘n lang pad na volle herstel voor.
Greeff help elke week talle honde in Borcherds – nie net met kos nie, maar ook met sterilisasie en basiese mediese sorg.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com