Vermiste Vanderbijlpark-man vermoedelik aangerand voor sy dood
Die omstandighede rondom die dood van Attie Venter wat Sondag verdwyn en wie se liggaam Woensdag naby 'n laerskool gevind is, word ondersoek.
Die polisie het bevestig dat die liggaam van die vermiste Attie Venter (43) Woensdag naby Laerskool Hendrik van der Bjil in Vanderbijlpark gevind is, enkele dae nadat hy spoorloos verdwyn het.
Vaalweekblad berig dat polisiewoordvoerder Sersant Sabelo Sigcu genoem het dat Venter met veelvuldige beserings aan sy liggaam aangetref is. “Daar word vermoed dat die oorledene aangerand is voordat hy gesterf het,” sê Sigcu.
Die presiese omstandighede rondom sy dood is nog onbekend.
Venter is Donderdag deur sy familie geïdentifiseer.
’n Moordondersoek is nou van stapel gestuur en speurders is besig met verdere onderhoude en bewysinsamelings om vas te stel wat presies op die dag van sy dood gebeur het.
Vaalweekblad het vroeër berig dat Venter laas by sy woonstel in Stephensonstraat gesien is. Hy het daarna spoorloos verdwyn.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, om na vore te kom.
Mense met inligting kan die Vanderbijlpark-polisie by 016 360 4700 skakel, die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 of die #MySAPS-toepassing gebruik om inligting vertroulik deur te gee.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za