Vermiste Vanderbijlpark-man vermoedelik aangerand voor sy dood
Attie Venter het Sondag verdwyn, en sy liggaam is Woensdag naby 'n laerskool gevind. Sy familie het Donderdag die liggaam by die lykshuis geïdentifiseer, terwyl die polisie steeds die omstandighede van sy dood ondersoek.
OPDATERING 2025/12/08 – 08:15 :
Familie van Attie Venter vra dat korrekte inligting gedeel word
VANDERBIJLPARK – Ná vroeëre berigte oor die verdwyning en dood van Attie Venter (43), het ’n familielid, Michelle Venter, Vaalweekblad gekontak om sekere besonderhede reg te stel en groter duidelikheid te gee oor die tydlyn.
Volgens die polisie is Venter se liggaam Woensdag (3 Desember) naby Laerskool Hendrik van der Bijl aangetref, met veelvuldige beserings. ’n Moordondersoek is geopen, en volgens polisiewoordvoerder sers. Sabelo Sigcu word daar vermoed dat Venter aangerand is voordat hy gesterf het.
Die familie bied egter ’n alternatiewe tydlyn aan.
In ’n verklaring sê Michelle Venter dat Attie reeds Saterdagaand (29 November) oorlede is en dat die polisie sy liggaam later daardie aand gevind het. As gevolg van ’n vertraging in die aankoms van forensiese dienste, is hy amptelik in die vroeë ure van Sondagoggend (30 November) dood verklaar.
Sy bevestig voorts dat Attie eers Woensdag (3 Desember) as vermis aangemeld is en Donderdag (4 Desember) formeel deur die familie geïdentifiseer is.
Die familie versoek dat media-instellings hul privaatheid respekteer en seker maak dat slegs geverifieerde inligting gepubliseer word.
Die presiese omstandighede rondom Attie se dood word deur die polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting wat kan help, word versoek om die Vanderbijlpark-polisie by 016 360 4700, die CrimeStop-nommer 08600 10111, of die MySAPS-app te gebruik.
—————————————————————————————————————————————————–
VANDERBIJPARK – Die polisie het bevestig dat die liggaam van die vermiste Attie Venter (43) Woensdag naby Laerskool Hendrik van der Bjil gevind is, enkele dae nadat hy spoorloos verdwyn het.
Volgens polisiewoordvoerder Sersant Sabelo Sigcu is Venter met veelvuldige beserings aan sy liggaam aangetref. “Daar word vermoed dat die oorledene aangerand is voordat hy gesterf het,” sê Sigcu.
Die presiese omstandighede rondom sy dood is nog onbekend.
Venter is Donderdag deur sy familie geïdentifiseer, wat bevestig het dat dit wel hy is wat sedert Sondag, 30 November, vermis was.
’n Moordondersoek is nou van stapel gestuur, en speurders is besig met verdere onderhoude en bewysinsamelings om vas te stel wat presies op die dag van sy dood gebeur het.
Vaalweekblad het vroeër berig dat Venter laas by sy woonstel in Stephensonstraat gesien is. Hy het daarna spoorloos verdwyn.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, om na vore te kom.
Mense met inligting kan die Vanderbijlpark polisie by 016 360 4700 skakel, die #CrimeStop-nommer by 08600 10111 of die #MySAPS-toepassing gebruik om inligting vertroulik deur te gee.
