Verjaardagviering op Vaalrivier eindig byna in tragedie ná bootongeluk

Ses mense is uit die Vaalrivier gered na 'n urelange reddingspoging.

‘n Bootrit op die Vaalrivier by die Parys Golf & Country Estate het Donderdagmiddag byna in ‘n tragedie geeïndig toe die boot net voor 19:00 by ‘n keerwal in die rivier omgeslaan en ses mense gestrand op die rotse gelaat het.

Parys Gazette berig al ses is net voor middernag ná ‘n urelange reddingsoperasie deur vrywilligers, opgelei in vinnig vloeiende waterredding, onder die ervare leiding van Hugh du Preez van Whitewater Training, met die hulp van kano’s na die oewer gebring.

Sterk strome en die ligging van die ses, tesame met die donker, het die reddingsaksie erg bemoeilik wat met uiterste presiesheid vanaf die Waterfall Estate-kant aan Noordwes-kant gedoen is.

Dewnine Verwey het na die traumatiese gebeure vertel dat sy en Abigail Amos albei gister verjaar het. Om hul 19de verjaarsdag te vier het hulle saam met vriende en familie die dag op die landgoed waar hul woon, gekuier en gebraai. Teen laatmiddag het die meisies saam met van hul vriende, en Dewnine se pa, De Wet, ‘n draai met die boot op die rivier gaan ry het.

Dewnine vertel dat sy en haar vriend van die boot af is om gou nog ‘n keer te swem. “My pa het net gedraai toe die sterk stroom by die keerwal die boot laat omslaan het. Ons was skaars tien minute op die water toe die ongeluk gebeur het,” het sy vertel.

Abigail se selfoon is waterdig en was by haar, en kon sy daarin slaag om haar ma te laat weet van die bootongeluk.

Daar is onmiddellik op die noodroep gereageer en is Whitewater Training wat dikwels die polisie bystaan met waterreddings in die Parys-omgewing se hulp gekry, terwyl nooddienste ook na die toneel ontplooi is.

Du Preez, wat een van die land se mees ervare en hoogs gekwalifiseerde riviergidse is, vergesel van die vrywilliger-span bestaande uit Gideon Pienaar, JP Pienaar, Jonathan Pienaar en Taryn van Olden is met kano’s op die water en is begin om stelselmatig die ses uit die water te kry.

Ses uit Vaalrivier gered
Whitewater training en die vrywilliger-span maak gereed om met die kano’s in die water in te gaan. Foto: Liezl Scheepers
Die reddingsoperasie het etlike ure geduur om die ses na veiligheid te bring. Foto: Liezl Scheepers

Nooddienspersoneel van ER24 het op die oewer gewag, om soos wat die slagoffers na veiligheid gebring is, mediese bystand te gee, terwyl hulp en bystand op die toneel ook verleen is deur Shawna Stapel (trauma chaplancy), die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens, Parys Medix/RIMS se Debbie Prinsloo, Prinsloo Recovery, Parys Sekuriteit en polisieduikers wat van Deneysville ontplooi is.

Benewens ‘n kniebesering en snywond, en die trauma van die ontbering, was die ander ongedeerd.

Redding uit Vaalrivier
Abigail by haar ma, Hanlie, pas nadat sy uit die water gered is. Foto: Liezl Scheepers

Whitewater Training en die vrywilliger-span wat die rivierredding uitgevoer het, is wyd geloof vir die vinnige reaksie en uitstaande professionele hulp wat verleen is.

Redding van ses uit Vaalrivier
Hugh du Preez van Whitewater Training en die span vrywilligers. Foto: Liezl Scheepers

Daar was ook spesiale dank vir Parys SAPD en Pieter Kemp van Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) vir die hulp wat verleen is met koördinering van hulp na die toneel

Die families het hul dank betuig teenoor elkeen wat gehelp het, en bystand op die toneel verleen het. Dit word opreg waardeer.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button